RUGBY NUUS - As jy saam met die groot honde wil speel, moet jy verwag om gebyt te word. Dit het Riversdal Blues Saterdag in Groot-Brakrivier deeglik uitgevind toe die tuisspan hulle met 62 - 12 afgeransel het.
Groot-Brak se groot gewigsvoordeel onder sy agttal en die span se ervaring was deurslaggewend en hoe moedig Blues ook al probeer walgooi het, kon hulle nie verhoed dat die damwal breek nie.
Toe was dit amper eenrigtingverkeer doellyn toe vir Groot-Brak.
Hoewel die besoekers aanvanklik goed verdedig het, kan mens ook net soveel keer walgooi teen 'n oormag. Daar was later net te veel gate om toe te stop.
Johan Lerm, oud-SWD-afrigter en Groot-Brak se breier, en sy spelers het die situasie goed uitgebuit en Blues voorlangs oordonder. Dis waar die grootste skade aangerig is.
"Maar ons is nog nie in sak en as nie," het Rhyno Jacobs, Blues-afrigter aan Suid-Kaap Forum vertel. "Enigeen wat iets van rugby af weet, besef ons sal versterkings onder ons voorspelers moet inbring. Ja, ons het gesukkel teen Groot-Brak se vaste vyf en die enigste manier om dié probleem te oorkom is om ons agttal te versterk."
Jacobs sê daar is 'n paar puik klubspelers wat lede is by ander klubs wat graag vir Blues wil speel. "Maar dit wil voorkom of die klubs traag was om die spelers te laat gaan. Hul vertrekkaarte is nie onmiddellik toegestaan nie en toe die vensterperiode van 16 Maart aanbreek, was dit te laat vir dié spelers om na Blues oor te skuif.
"Die spelers het al in Januarie aangedui dat hulle wil oorskuif, maar die klubs het die toestemming waarskynlik doelbewus teruggehou. Nou ja, met die vensterperiode verstreke, kan die spelers slegs by ons aansluit as hulle verhuis of 'n werk in Riversdal losslaan. Dus nou volgens die SWD-rugbyunie se regulasies."
Jacobs sê wat wel bemoedigend is, is dat Blues se hardlooprugby tot dusver nie afgesteek het by sy teenstanders in die Super A-liga nie. "Ons uitvoering daarvan was goed en ons het 'n paar keer bresse in Groot-Brak se verdediging geslaan. Maar sonder die bal kan jy nie juis aanval nie.
"Ons het ook te stadig in ons posisies teruggeskuif en dit het Groot-Brak goed uitgebuit."
Maar soos die seisoen vorder, kan ons net verbeter, reken Jacobs. "Die vereistes wat die Super A-liga stel is hoog, maar ons sal vinnig daarby moet aanpas. Ons sal blitsig op verlede jaar se standaard moet kom, veral wat ons gewig betref. Maar een ding is seker en ons teenstanders weet dit: ons sal nie sommer weer met só 'n groot telling teen dieselfde spanne verloor nie. Anders het ons mos niks geleer nie."
Jacobs sê Blues se volgende kragmeting teen Maori's oor 'n week tuis is 'n moet wen. "As ons nog enigsins in die wedloop wil bly, sal ons dié tuiswedstryd ten alle koste moet wen."
Andrew Jacobs (regs) probeer die speler van Groot-Brakriver inhaal.LINKS: Codian Michaels (links) en Wilbur January, albei van Riversdal Blues, omsingel 'n speler van Groot-Brakrivier. Groot-Brak het die Super A-ligawedstryd met 62 - 12 gewen.
Chadwin Paulsen het as plaasvervanger vir Blues onmiddellik 'n groot inpak gemaak toe hy op die veld gekom het.
Donovan Petersen, skrumskakel van Blues, gee die bal uit na sy losskakel, Wilbur January. Foto's: Heinrich Fortuin
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’