RIVERSDAL NUUS - Dis Dawid teen Goliat Saterdag in Riverville wanneer die rugbybulle van Heidelberg en Riversdal Blues mekaar in 'n derby in die SWD Super A-liga aandurf.
Kyk mens na die topliga se puntelys lê Heibi in die tweede plek ná Evergreens met die Blues tweede laaste.
Dis seker te verstane dat ondersteuners sulke vergelykings sal maak en op sosiale media voorspel dat 'n bloedbad op die tuisspan wag.
Maar suutjies nou. Snaakse dinge het al op 'n rugbyveld gebeur. Japan het Suid-Afrika al in 'n Wêreldbekertoernooi geklop. Daar is nou nog Bok-ondersteuners wat goorpens kry as jy hulle daaraan herinner.
Heibi sal ongetwyfeld as die gunsteling opdraf. Maar moenie die Blues sommer goedsmoeds afskryf nie.
As jy veg met jou rug teen die muur en baie belangrik, om oorlewing in dié liga, baklei jy met alles tot jou beskikking en boks jy ver bo jou vermoë.
Nou ja, Riverville gaan Saterdag uit sy nate bars. Dalk plant 'n liggewig die uitklophou teen 'n swaargewig ... maar dan sal die Blues moet dans soos 'n vlinder en steek soos 'n by, om Muhammad Ali te eggo.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’