RIVERSDAL NUUS - Twee plaaslike rugbyspanne, Blues en Riversdal Dorp het mekaar Saterdag 14 April op Riverville die stryd aangesê, maar Blues het die oorhand gekry en met 27-12 voor 'n volgepakte stadion gewen.
Blues, wat as die gunsteling beskou was het van die afskop die krane behoorlik oopgedraai. Die senter, Joshwin Bell, het vroeg in die wedstryd twee pragdrieë aangeteken, maar is daarna deur die noodhulpspan met 'n enkelbesering van die veld gedra.
In die laaste kwartier van die wedstryd het Dorp twee drieë gedruk, maar dit was te laat vir hulle. Die span moes met 14 man klaarkom as gevolg van 'n rooikaart teen hulle en het dit vir groot ontevredenheid gesorg.
Die skeidsregter, Shaun Stoffels, het sy hande behoorlik vol gehad met spelers en toeskouers wat wou handuit ruk, maar het sy stempel gou afgedruk.
Blues se B-span het gemaklik met 49-0 gewen. Hulle druk sewe drieë. Beide die A- en B-spanne kry bonuspunte.
Blues kom Saterdag in 'n wegwedstryd teen die Rangers van Albertinia te staan en vuurwerke kan verwag word. Hoewel Rangers tuisveldvoordeel sal geniet, sal hulle alles in die stryd moet werp om Blues te wen.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'