TUINROETE NUUS - Dit was ’n aand van triomf vir Mosselbaai Barbarians toe hul A-span gisteraand, 12 September op Outeniquapark in George die SWD-premierligakampioenskap met ’n 32-17-sege oor Bridgton beklink het.
Die Barbarians, beter bekend as die Baabas, het teen rustyd reeds met 14-7 voorgeloop.
Die wedstryd het deurgaans ’n intense aanslag gehad, maar Baabas het daarin geslaag om op die beslissende oomblikke die oorhand te kry en hul voorsprong tot die eindfluitjie te behou.
Die oorwinning het nie net die gesogte SWD-klubrugbytitel aan die Barbarians besorg nie, maar ook prysgeld van R50 000.
Hoewel die A-span met die kampioenskap weggestap het, was die uitslae in die ander eindstryde minder gunstig vir die Baabas.
Bridgton se C-span het in hul eindstryd teen die Baabas met 20-16 geseëvier, terwyl Bridgton se B-span ook die knoop deurgehak het met ’n naelskraapse 20-19-oorwinning oor die span van Mosselbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’