Update
HEIDELBERG NUUS - Arrows-rugbyklub het Saterdag 30 April in hul tuiswedstryd teen Black Birds van Van Wyksdorp daarin geslaag om hul besoekers se vlerke met 23 - 14 te knip.
Die rustydtelling in die SWDRU Eersteliga-Wes wedstryd was 6 - 5 in die besoekers se guns.
Dit het vanaf die afskop geblyk dat die besoekers met die wind in hul blaaie, asook die ongedissiplineerde spel van die tuisspan 'n groot voorsprong sou opbou. Ongelukkig het swak stelskopwerk deur hul haker, Riaan de Aquar, wat vier strafskoppe in die eerste 20 minute verbrou het, die tuisspan in staat gestel om hul ritme te vind.
De Aquar het wel met twee strafskoppe in die tweede en negende minute geslaag.
Arrows het na rustyd meer gefokus voorgekom. Die spel was by tye baie slordig as gevolg van die wind wat die spel end uit getreiter het. Die tuisspan het weereens daarin geslaag om vier drieë te druk om sodoende 'n bonuspunt te verseker.
Vir Arrows druk Delverne Plaatjies, Danville Jemaar, Timothy van Wyk (kaptein) en Martinique Pretorius elk 'n drie. Plaatjies slaag ook met 'n strafskop.
Black Birds se puntemakers was Virgil Opperman met 'n drie en Miguel Opperman wat met 'n strafskop geslaag het.
In die wedstryd tussen die B-spanne het die tuisspan ook as oorwinnaars met 25 - 7 uit die stryd getree. Hulle het rustyd met 11 - 0 voorgeloop. Hulle kon egter nie 'n bonuspunt inryg nie.
Vorige artikel: Black Birds se vere word geknip
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'