ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 29 Julie op hul tuisveld groot verwoesting onder Arrows van Slangrivier gesaai en die SWDRU Presidentsliga (Langebergstreek) wedstryd met 74-9 in hul guns beklink.
'n Paar onnodige foute aan die besoekers se kant het aan hulle die nege punte besorg. Rangers het vanuit die staanspoor voluit gegaan en nie toegelaat dat die koue hulle kortwiek nie.
Hul kragtige skrumwerk het veroorsaak dat Slangrivier se voorryspelers gesukkel het om balbesit te behou en hier kan die name van Johnny Swart, Bradley Saayman en Duran Vaaltyn uitgesonder word. Rangers se agterlyn het egter te veel foute in die eerste helfte begaan en hul afrigters geensins met goeie spel beïndruk nie.
Na rustyd en harde woorde van die afrigters het sake drasties verander. Rangers druk agt drieë in die tweede helfte, wat hul totale doele na 11 opskuif. Goeie balverspreiding en -hantering het beter en aanskoulike rugby aan hul ondersteuners gebied. Die skrumskakel Keanan Tarentaal het 22 punte vir sy span aangeteken.
Rangers se B-span het vyf punte verdien omdat die besoekers se B-span nie opgedaag het nie.
Hierdie was die Albertinianers se laaste tuiswedstryd. Volgende week sluit hulle met 'n wegwedstryd teen Seagulls van Melkhoutfontein af. Hulle het teen Riversdal Blues gewys dat hulle hul man teen enige ander span in dié liga kan staan.
ARTIKEL: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'