GEORGE RUGBYNUUS - Na die Springbokke se oorwinning van 36-34 Saterdagoggend oor die magtige All Blacks in Wellington, het die SWD Arende later die middag murg in hul pype getoon toe hulle die gedugte span van die Valke op die Barnard-stadion in Kempton Park ook met 36-34 geklop het.
Die hoogtepunt van die wedstryd was ongetwyfeld die terugvegpoging van die Arende in die tweede helfte nadat hulle rustyd nog met 14-22 agter was. Hul plaasvervangerbank het weer 'n groot impak gemaak en bygedra dat hulle ses pragdrieë kon druk.
Die Arende kan met oorwinnings in hul oorblywende wedstryde teen die Boland Kavaliers op 28 September op Outeniquapark en op 5 Oktober teen die OP Olifante in Port Elizabeth vir hul 'n tuis-halfeindstryd bespreek op 12/13 Oktober.
Die hoofafrigter van die Arende, Rynardt van As, het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "My span het baie goeie karakter en veggees getoon deur 'n wedstryd, waar ons deurentyd agter was, te kon wen. Dit is altyd moeilik om daar te speel met die lugdruk asook die klipharde veld.
Die Valke, wat die seisoen oortuigende oorwinnings van 56-52 oor die Griffons en 62-28 oor Grens Bulldogs behaal het, is altyd 'n moeilike span om op hul tuisveld te klop.
"In 'n wedstryd waar ons baie omgekeerde besit afgestaan het en ongedwonge foute begaan het, kon ons eers in die 70ste minuut die voortou neem. Kirsten Heyns (plaasvervanger-senter) het die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk.
"Ons ysters voorlangs was Janneman Stander (flank), wat in die vastelos uitgeblink het, en Jacques Vermaak (haker en kaptein) wat 'n kapteinsbeurt gespeel het.
"Vermaak het in die moeilike omstandighede die manne voortdurend bymekaar gehou. Leighton Eksteen (heelagter), wat twee pragdrieë gedruk en Marlo Weich (regtervleuel), wat met sy kraglopies die oog gevang het, was agterlangs ons beste spelers.
"Ons plaasvervangers het ook 'n groot impak gemaak toe hul opgekom het. Ons mikpunt is nou vir 'n tuis-halfeindstryd."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'