MELKHOUTFONTEIN NUUS - All Blacks van Oudtshoorn het die vlerke van Seagulls-rugbyklub op Saterdag 7 Mei teen alle verwagtinge in geknip deur hulle met 42 - 31 te klop.
Die rustydtelling was 22 - 12 in die tuisspan se guns.
Die besoekers, wat tot Saterdag die voorlopers in die SWD se Superliga B-liga was, kan nog steeds hul koppe hoog hou nadat hulle vyf drieë teenoor die tuisspan se ses ingepalm het in die opwindende wedstryd wat die beste uit beide spanne gehaal het.
Seagulls, wat in staat is om beter rugby op te dis, sal egter beter in hul volgende wedstryd tuis teen Happy Hearts van Brandwacht moet fokus om hul ondersteuners tevrede te stel.
Seagulls sal aan hulle dissipline moet werk om te verseker dat hulle meer gefokus bly tydens die duur van die wedstryd.
Vir die wenspan het Overton Filander (flank) twee drieë aangeteken, terwyl Duwaine Januarie (heelagter), Jeremy Julies (senter), Eslin Olkerts (linkervleuel) en Everton Manewil (slot) elk eenkeer gaan druk het. Tyrone Stoffel (losskakel) het die ander punte met twee straf- en drie doelskoppe bygevoeg.
Vir Seagulls het Reagan Riddles (losskakel), Gershom van Rooyen (regtervleuel), Nathan Buis (senter), Jason Jacobs (plaasvervangerhaker) en Wilhelm Sollmons (plaasvervangerheelagter) elk een drie gedruk. Riddles het met twee doelskoppe geslaag en Sollmons met een doelskop.
In die eerste wedstryd van die dag het All Blacks se B-span met 18 - 0 gewen nadat hulle rustyd met 15 - 0 gedraai het.
Vir die wenners het Tshepo Moopelo (regtervleuel) twee keer gedruk, terwyl Arnold Malapane (plaasvervanger) een keer gaan druk het. Jean-Pierre van Voegt (senter) het ook met 'n strafskop geslaag.
Seagulls speel Saterdag 14 Mei tuis teen Happy Hearts en hier kan 'n reusestryd verwag word in dié Hessequa derby.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'