Soos verlede jaar het die fietsuitdaging bestaan uit drie verskillende afstande, maar was die roetes heelwat aangepas van die van 2013. Die bekendstelling van die Trail Run was ook iets nuut en het belangstelling van plaaslike en ander deelnemers gelok. Die drie afstande waaraan deelnemers aan die fietsryuitdaging deelgeneem het was 17,48 en 88 km. Die twee afstande vir die Trail Run was die korter 8 km en die meer uitdagende 16 km roete.
Al die wegspringe het begin by Hoërskool Langenhoven vanwaar die deelnemers deur Riversdal beweeg het oor die Steeg tot waar die pad links draai na Zeekoegat. Met die grondpad het die deelnemers die openbare pad verlaat en met 'n tweespoorpaadjie voortgegaan tot dit weer by die Novo pad aansluit.
Met die aansluiting is die drawwers se roete huiswaarts aangedui en was daar heelparty moeë persone wat by Hoërskool Langenhoven aangekom het om 'n heerlike lavenis van 'n yskoue roomys met die komplimente van Ola te geniet. Die fietsryers wat deelgeneem het aan die 17km uitdaging het egter voortgegaan en aangesluit by die teerpad vanaf Garcia en so huiswaarts gekeer. In teenstelling hiermee is die 48 en 88km deelnemers oor verskeie plase geneem tot bo in die hartjie van die denneplantasies van Cape Pine waar hul tegniese vaardighede op die toets gestel is deur verskeie enkelbaan roetes wat deur die denneplantasies kronkel.
Vanaf die denneplantasies oor die teerpad was beide die 48 en 88 km deelnemers se uithouvermoë getoets tot die uiterste met 'n opdraende wat die bynaam 'Die Hysbak' verdien, weens die styl aard daarvan. Die 48 km deelnemers het hiervandaan die eindpunt tegemoet gery met 'n welkome afdraend met die grondpad wat lei van die Korentepoortdam tot by die eindpunt te Hoërskool Langenhoven.
Vir die deelnemers aan die 88 km was die dag van opwinding egter nog aan die beginstadium en het hul roete om die Korentepoortdam gegaan waarna dit weereens die denneplantasies gekronkel het voordat dit met 'n steil helling gevorder het tot by die hoogste punt van die roete, waar die koning en koningin van die berge gekroon was by die FM toring.
Soos die spreekwoord lei moet alles wat opgaan weer afkom en was die pad ondertoe vir selfs die meer gesoute fietsryer uiters tegnies en het uiterse konsentrasie vereis. Geen wonder dat die naam 'Cliffhanger' dadelik daaraan toegedig is.Vandaar was die aansluiting by die grondpad 'n welkome verligting vir menige ryer en kon die laaste gedeelte van die uitdaging op relatiewe gelykpad voltooi word.
Die uitslae in die verskillende afdelings is soos volg: (Slegs eerste drie plekke word aangedui):
- Dames 88 km: Yolandé De Villiers 03.50.44; Fienie Barnard 04.04.07; Hanlie Booyens 04.21.05.
- Mans 88 km: Kevin Evans 03.33.05; Gert Heyns 03.35.21; Vickus Boshoff 03.50.46.
- Dames 48 km: Amy Williams 02.34.24; Hanlie Cilliers 02.44.20; Danna Mosterd 02.52.48.
- Mans 48 km: Aiden van Niekerk 02.00.51; Rauhan Cronjé 02.03.59; Louis Visser 02.11.20.
- Dames 17 km: Nadia van Niekerk 00.47.03; Marinelle Fourie 00.48.40; Euodia Gerber 00.51.43.
- Mans 17 km: Rubin Grobbelaar 00.40.39; Dawie du Plooy 00.41.20; Hano du Plessis 00.41.48.
- Dames 16 km: Riette Taute 01.21.13; Anne du Plessis 01.25.10; Isabel Cronje 01.32.49.
- Trail Run Mans 16 km: Tarentaal 00.48.56 Jerome Esau 00.58.59 Justin Marais 00.59.58
- Trail Run Dames 8 km: Ilse van Wyk 00.46.07; Fiona Dreyer 00.50.30; Andeline Claasen 00.52.43.
- Trail Run Mans 8 km: Leon van Eeden 00.36.20; Lou Hein Kortje 00.37.26; Jason Smith 00.37.53.
Hessequa Mountain Bike Challenge en Trail Run het Saterdag, 10 Mei, in Riversdal plaasgevind. Hier is van die deelnemers by die wegspring. Foto's: Riversdal Fotografieklub.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'