STILBAAI NUUS - Rolbalspelers van regoor die Suid-Kaap het Saterdag 13 Junie die winterkoue afgeskud met uitstekende spel tydens Stilbaai-rolbalklub se gewilde Presidentsdag-toernooi.
Altesaam 20 spanne van Stilbaai, Riversdal, Hartenbos, George, Mosselbaai, Groot-Brakrivier, Oudtshoorn, Ladismith en Durbanville het op die klub se goed versorgde bane meegeding om te bepaal wie vanjaar met die louere wegstap en wie tevrede moet wees met die houtlepel.
Die plaaslike span van Frans Human, Ansa Breytenbach, Johan Hoffman en Albert Botha was van vroeg af in uitstekende vorm. Hul konstante spel deur die dag het uiteindelik die wenprys aan die Stilbaai-viertal besorg.
Die span van Hendrik Boshoff, Steve Myburgh, Bob Greig en Dalinda Malan van Mosselbaai het tweede geëindig, terwyl nog 'n Stilbaai-span bestaande uit Fanie Lubbe, Thembi Steenkamp, Cheryl Worth en Mariana van der Walt van Stilbaai die derde plek verower het.
Met twee spanne in die topdrie was dit 'n besonder suksesvolle dag vir die tuisklub. Die toernooi is verder gekenmerk deur goeie sportmangees, gesellige samesyn en die gasvryheid waarvoor Stilbaai-rolbalklub bekend is.
Deelnemers en besoekers het die dag geniet en die toernooi het weereens bewys waarom dit 'n gewilde hoogtepunt op die plaaslike rolbalkalender bly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’