Gallery Update Video
RIVERSDAL SPORT NUUS - Die bal is aan die rol vir vanjaar se sosiale liga rolbal wat by die plaaslike klub by Jurischpark gespeel word.
Altesaam 24 spanne van vier lede elk het Donderdag 16 Januarie vir die eerste keer aangemeld om oor 14 weke om die George Uys Sosiale Liga-wisseltrofee mee te ding.
Die klub is by die Bowls SA en Eden Bowls affilieer en van die lede wat sosiale liga speel, is ook lede van die formele liga. Volgens Louw Bester, die sekretaris en tesourier, bestaan die klub uit 17 voltydse lede. "Die sakeliga het sowat agt jaar gelede ontstaan met die doel om die gemeenskap bymekaar te bring en om as finansiële inspuiting vir die klub te dien. Mettertyd het dit meer 'n sosiale liga geword omdat nie net sakeondernemings nie, maar ook ander spelers, soos dokters en prokureurs, en boere uit die omgewing en van so ver soos Albertinia spanne inskryf."
Fotogalery: Riversdal rolbalklub sosiale liga
Die gemiddelde ouderdom van die sosiale liga-lede is sowat 40. "Hulle verjong by die dag en gee 'n lewenskragtige energie-inspuiting aan die klub - dié liga het die klub getransformeer."
Bester meen die sosiale liga is gewild omdat daar maar weinig sportsoorte in die dorp aangebied word waaraan almal kan deelneem. "'n Mens het nie spesiale vaardighede nodig nie, maar 'n bietjie ball sense help," sê Frans Blaauw, die president en voorsitter.
Charl du Plessis, eienaar van 'n kwekery op die dorp, is die baanmeester. "Die voorbereiding van die bane is 'n spesialiteit en moet met uiterste omsigtigheid hanteer word," sê Bester.
Kyk 'n video hieronder:
Dis veral belangrik in die droogtetoestande, maar gelukkig het die weer Donderdagaand mooi opgesteek en die eerste buie het in die nag lafenis gebring.
George Uys is die sosiale ligabestuurder.
Bester het die 2020 borge namens die bestuur bedank. "Ons vra dat Riversdallers hierdie besighede wat betrokke is by die groei van die uiters gewilde sportsoort sal ondersteun." Hy het ook die munisipaliteit vir die beskikbaarstelling van die perseel en hul betrokkenheid by die klub bedank.
Die formele lede speel Woensdae vanaf 14:00 tot 17:00, Vrydae tussen 16:00 en 18:00 en Saterdae vanaf 14:00 tot 18:00. Die sosiale liga speel Donderdae vanaf 18:00 vir sowat twee ure onder die spreiligte. Die klub het 'n dranklisensie en 'n supermark verkoop etes waarvan 'n gedeelte van die opbrengs na die klub gaan.
Kontak Louw Bester by 082 832 0001 of stuur 'n e-pos na besterdj5@gmail.com.
En... aksie! Johannes Cronjé van die Hunters-span laat waai.
Vat so! Paulina Saayman van die Tornado Kings rol daai bolle. Foto’s: Tisha Steyn
Die Pink Ladies het nie net ondervinding nie, maar ook skoonheid aan hul kant.
Lees 'n vorige artikel: Sosiale liga se bal is aan die rol
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'