Die afgelope rolbaljaar is deur verskeie hoogtepunte gekenmerk. Suid-Kaap het in die ope, senior, "B" mans en dames, o.25 en in die ontwikkelingstoernooie deelgeneem met die ope-damesspan wat 'n bronsmedalje ver-ower het. Die "B" spanne het met jong en belowende talent in hul midde onskatbare ondervinding opgedoen asook die Ontwikkelingspan wat laasjaar goud verwerf en wat hierdie jaar in die o.25 kategorie meegeding het.
Billy Radloff, Elma Davis en Rosanne Rossouw het in die SA Meesterstoernooi deelgeneem. Radloff het nie net 'n bronsmedalje verwerf nie, maar is weer as 'n Protea-speler gekies om Suid-Afrika in die African States Toernooi te verteenwoordig. Hier het hy in beide die pare en enkelspel goue medaljes verseker.
Dieselfde drietal het ook aan die nasionale enkels, viere en pare deelgeneem. Radloff en Japie Combrink, beide van die George-rolbalklub, het goud in die pare verwerf terwyl hulle met die toevoeging van Ted Coetzee en Peter Hufkie as naaswenners in die vieretoernooi geëindig het. Rosanne Rossouw het tot die laaste 16 in die dames enkelspel gevorder.
Benewens die aanbied van 'n sukses-volle toernooi met die Oostelike Provinsie, Grens en Boland as gaste, het die Suid-Kaap verder as gasheer van 'n suksesvolle 2012 "B" Inter-Provinsiale Toernooi opgetree. Groot opgewondenheid heers oor die 2013 All Cape-toernooi, wat aanstaande jaar in die Suid-Kaap aangebied word en waarin spanne van regoor die ou Kaapprovinsie sal meeding.
Sinclair het haar komitee bedank vir hul ondersteuning tydens haar termyn. Spesiale dank is betuig teenoor Johan Havenga, wat na jare as ontwikkelingsbeampte die tuig neerlê en voortaan slegs by skole-ligas betrokke sal wees. Sy portefeulje is deur Michael Marques gevul.
Die komitee wat verkies is, is Trevor Davis (George) as president, Japie Combrinck (George) as visepresident, met Lise de Villiers (Beaufort-Wes), Claudia de Hahn (Oudtshoorn), Johny de Kock (Military Bowls) en Philip Hattingh (Outeniqua) as addisionele lede. Kosie Louw sal as tesourier dien terwyl Les en Laura Johnson die portefeulje as kompetisie sekretariaat sal vul. Christine Lombaard bly aan as sekretaresse.

Rolbal Suid-Kaap se bestuurslede is van links: Les Johnston, Philip Hattingh, Laura Johnston, Japie Combrinck (visepresident), Christine Lombaard, Trevor Davis (president), Lise de Villiers, Kosie Louw en Johny de Kock.