STILBAAI NUUS - Die wêreldbekende roeier Oscar Chalupsky het Stilbaai Saterdag,15 Augustus, besoek vir 'n twee uur lange opleidingsessie by die Stilbaai Paddling Club.
Chalupsky, wat Suid-Afrika by die 1992 Olimpiese Spele in Barcelona verteenwoordig het en die spankaptein was, het in die K-4 1 000m-roeikompetisie tot die halfeindronde gevorder. Hy is ook 'n 12-malige wêreldkampioen en 'n bekende motiveringspreker wat opleidingsessies regoor Suid-Afrika aanbied.
Sy besoek aan Stilbaai het egter oor veel meer as net roeitegniek gegaan. Chalupsky is op 25 November 2019 met beenmurgkanker gediagnoseer en is destyds ses maande gegee om te leef. Soos die titel van sy boek, No Retreat, No Surrender, aandui, het hy egter met vasberadenheid geweier om tou op te gooi en deel hy sy liefde en kennis van die roeisport met nuwe sowel as ervare roeiers.
Die waardevolle kennis wat Chalupsky tydens die sessie met die lede gedeel het, is volgens die klub iets wat nie sommer in 'n handleiding gevind kan word nie.
Die aanvanklike teoretiese sessie is opgevolg met praktiese opleiding in die Goukourivier. Die roeiers het in die vlak water, met slegs hul spane, verskeie tegnieke geoefen wat Chalupsky aan hulle verduidelik en gedemonstreer het.
Sy filosofie is dat die regte tegniek dit moontlik maak om met minder krag dieselfde, of selfs beter, resultate te behaal.
Vir die lede van die Stilbaai Paddling Club was dit 'n besondere geleentheid om by 'n meester van die sport te leer - 'n waardevolle sessie wat hulle beslis lank sal onthou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’