HEIDELBERG SPORTNUUS - 'n Ope rolbaldag by die Heidelberg-rolbalklub is met ope arms verwelkom, toe 12 spanne van ses dorpe se klubs aan die geleentheid, geborg deur SSK deelgeneem het.
Die geleentheid op Saterdag, 17 Oktober het vir groot opwinding gesorg toe spelers na meer as 200 dae se inperking, weer vir die eerste keer ander rolbalentoesiaste as een groot groep gesien het en die spel saam kon geniet.
Onder toesig van Heidelberg-rolbalklub se president, John Evert is vlak 1-inperkingsregulasies streng toegepas.
Almal kon nie as wenners huiswaarts keer nie, maar volgens Evert was die suksesvolle rolbaldag 'n wen vir elke deelnemer. Spanne het van so ver as Ladismith, Barrydale, Swellendam, Witsand en Riversdal gereis om saam met Heidelberg se spanne te speel.
Witsand-spelers het as wenners uit die stryd getree, met Swellendam tweede en Stilbaai wat die derde plek kon verower.
"Dit was Heidelberg-rolbalklub se eerste en enigste opedag vir 2020 met SSK se borgskap wat dit moontlik gemaak het," het Evert gesê. Volgens hom het die Covid-19-pandemie gesorg dat 2020 'n baie moeilike jaar was. "Sportklubs het swaargekry. Die inkomstes het opgedroog, maar die fasiliteite moes nog onderhou word met meegaande kostes. Ons is dankbaar dat ons nou weer op die rolbalbaan kan wees."
Evert het namens die klub vir SSK vir die borg van die dag bedank, veral in die moeilike ekonomiese omstandighede. "SSK het die afgelope paar jaar 'n opedag vir ons geborg en ons is opreg dankbaar vir hul volgehoue betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap."
Hy verduidelik dat dit uitdagend is om so 'n kompetisie onder die Covid-19-regulasies ten opsigte van sanitasie, maskers, sosiale afstand en die aantal toelaatbare persone te reël. "Ons hartlike dank aan almal wat gewerk het om hierdie dag te organiseer. Dit was 'n groot sukses en almal het dit baie geniet."
Xenny Yasbek, Wessel Potgieter en Cheryl Worth van Stilbaai was derde.
Swellendam se Graham McDonald, Robert Lof en Schalk Pienaar was tweede.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'