RIVERSDAL NUUS - Die 560 kg-toutrekspan van die Hoër Landbouskool Oakdale is as die Protea-span aangewys om Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskap in Southport, Engeland, te verteenwoordig.
Dit is die negende keer dat die Oakdale-span die land by die wêreldkampioenskap, waarvan hulle reeds by vier geleenthede as wêreldkampioene gekroon is, sal verteenwoordig.
Hulle wen hulle eerste wêreldkampioenskap in 2005 in Italië en daarna ook in 2008, 2012 en 2014 onderskeidelik in Swede, Switserland en Amerika.
Hulle het 'n silwermedalje uit Engeland in 2007, Nederland in 2013 en uit Noord-Ierland in 2015 huis toe gebring.
Die groep bestaan vanjaar uit 16 lede. Twee spanne sal Oakdale op 22 September in die wêreld se klubkampioenskap verteenwoordig.
Die Protea-span van 10 lede sal Suid-Afrika op 24 September by die wêreldkampioenskap verteenwoordig. Die span vertrek 17 September vanaf Kaapstad na Engeland.
Sedert die SA kampioenskap waartydens die Oakdale-span as die SA span gekroon is, het die Oakdalers onder die afrigtingsoog van Piet Lourens en Tienie van Wyk ure en ure se oefentyd aan die tou en op die pad spandeer.
Agter, van links: FC Kriel, Johan Scheün, Janu de Swardt, Kirstein Möller en Hanro van Rooyen. Middel: JJ van der Vyver, Matthys Swart, De Wet Theunissen, André Matthee, Petrie Frick, Estiaan Steyn en Neco Fourie. Voor: Johan Swart, Tiaan Conradie, Piet Lourens (afrigter), André Latsky (skoolhoof), Tienie van Wyk (afrigter) Pierre Blignaut en Koos Botha.
Suid-Afrika hou duim vas dat hierdie nasionale span met groot sukses sal deelneem en goud sal terugbring.
Die span kan met behulp van die volgende borge na Engela toer: Sentraal-Suid Koöperasie (SSK), Old Mutual Insure, asook met die hulp van kleinere donateurs.
Opsomming van die deelname aan Wêreldkampioenskap:
2005: Goud
2007: Silwer
2008: Goud
2012: Goud
2013: Silwer
2014: Goud
2015: Silwer
2016: Vierde.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'