RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se Protea-toutrekspan vaar uitstekend by Twif (Tug of War International Federation) se wêreld troutrekkampioenskap in Mannheim, Duitsland.
Hulle spog reeds met ‘n goue en ‘n bronsmedalje.
Sowat 1 500 klubatlete van 25 lande neem daar tot 8 September in verskillende gewigsafdelings deel.
Oakdale het gister twee spanne in die klubkampioenskapstryd ingeskryf en hul staan teen tien spanne gewys. Hulle het teen Duitse, Walliese, Engelse, Switserse, Skotse, Taiwanese en Nederlandse spanne in die 600 kg-gewigsafdeling vir mansatlete o. 23 meegeding.
Die A-span het teen ‘n span van die Universiteit van Taiwan in die finale getrek en ‘n goue medalje verower.
Die B-span het teen Nederland getrek en ‘n bronsmedalje ingepalm.
Nóg spanne is vandag in ánder gewigsafdelings by die Alsenweg-stadion in die stad, Mannheim, in aksie.
Altesaam 190 spanne van regoor die wêreld neem aan die klubkampioenskap deel.
Die wêreldkampioene word môre en Sondag beslis.
Die kampioenafvaardiging bestaan uit die afrigter Piet Lourens, die spanbestuurder Abrie de Wet en die biokinetikus Ivan van Zyl.
Die uitblinkeratlete is: Henk Meyer, Steyn de Wet, Lourens Brand, Andreas Muller, Divan Sprong, Francois Janse van Rensburg, Zander Groenewald, Wihen Conradie, Jandré Aucamp, Nico Geldenhuys, Richard Pretorius, Simeon Botha, Christo Gouws en Kobus du Plessis.
Suid-Kaap Forum volg die Oakdalers se vordering tydens die wêreldkampioenskapkragmeting en sal gereeld aanlynverslag lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’