STILBAAI NUUS - Daar is groot geesdrif op die rolbalbane in Stilbaai waar 22 spanne sedert Donderdag 15 Oktober aan die Stilbaai-rolbalklub se Aksieliga-kompetisie vir Oktober en November deelneem.
Die kompetisie, wat twee keer per jaar aangebied word, gee aan nie-spelende rolbalentoesiaste van Stilbaai en omgewing die geleentheid om self die sport te probeer.
Rico Garden Route van George neem reeds verskeie jare aan die kompetisie deel.
Deelnemers word deur ’n klublid gewys hoe om die rolbal te rol, die regte lyne te volg en tellings te hou.
Langs die bane is daar ook geen tekort aan ondersteuning nie, met talle toeskouers wat hul spanne luidkeels aanmoedig.
Die kompetisie strek oor ses Donderdagaande en eindig op 19 November met die finale aand en prysuitdeling.
Benewens pryse vir die toppresteerders word daar ook erkenning gegee aan die span met die beste drag en beste gees.
Trofeë is op die spel vir die eerste en tweede plekke.
Die kompetisie is reeds in volle swang en in week vier het die Ninja Turtles ná ’n verbete stryd daarin geslaag om die Buffels, die wenners van Februarie 2026, te klop.
Die Ninja Turtles en Stilbaai Makelaars deel tans die eerste plek op die puntelys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’