Die voorsitter, Schalk Fick, het almal welkom geheet en in besonder dié lede bedank wat van ver af gekom het. ‘n Spesiale woord van verwelkoming is gerig aan a.o. Cindy van Tonder van die plaaslike polisie, wat as gasspreker opgetree het. Sy het die vergadering toegelig aangaande die prosedure wat gevolg moet word vir die hernuwing van ‘n vuurwapenlisensie soos uiteengesit is in die uitgawe van die Suid-Kaap FORUM van 3 Februarie 2012.
Verskeie kwelvrae wat sedertdien ontstaan het by lisensiehouers is op bekwame wyse deur a.o. Van Tonder beantwoord en wil die klub haar bedank vir haar bydrae in die verband. Die voorsitter het in sy jaarverslag gemeld dat die klub weereens ‘n besondere geseënde jaar beleef het sonder enige ongelukke of onaangename insidente.
Hy het verder gesê dat die sukses en krag van ‘n klub nie gemeet word aan die hoeveelheid lede op sy boeke nie, maar aan die deelname, belangstelling en lojaliteit van sy lede aan die aktiwiteite van die klub. Hy het die woorde van Napoleon aangehaal wat gesê het: "elke suksesvol afgehandelde taak het begin by die voorneme om dit te ‘probeer’".
Teenoor verlede jaar was daar ‘n merkbare verbetering in die skietvermoë van verskeie skuts wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die handhawing van ‘n hoë standaard van dissipline en samewerking.
Die voorsitter het die lede bedank daarvoor. Gedurende die jaar is verskeie skietoefeninge gehou wat goed bygewoon was terwyl van die skuts ook deelgeneem het aan kompetisies van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging.
Een van die lede, Rodney Page het ook die CHASA Gevorderde opleidingskursus met sukses afgelê, en gelukwense is aan hom oorgedra.
Die Frans Joubert Skietbaan is gedurende die jaar weer goedgekeur deur die NRCS en as ‘n mooi baan beskryf wat voldoen aan al die toepaslike wetgewing. Fick het voorts gesê dat daar vir die komende jaar verskeie nuwe opwindende uitdagings voorlê en dat die komitee voortdurend sal poog om bestaande stelsels te verbeter en uit te brei ten einde byeenkomste vir die lede so aangenaam en interessant moontlik te maak. Die bestuur is eenparig herkies vir 2012 en bestaan uit: Schalk Fick (voorsitter), Ben van Tonder (sekretaris), en addisionele lede - Fred Laing, George Butler en Pieter Cilliers.
Die vergadering is afgesluit met die oorhandiging van verskeie trofees en meriete sertifikate wat tydens die jaarlikse klubkampioenskap verower is. Vir verdere navrae kan die voorsitter geskakel word by 028 754 1403 of 082 564 5668.
Trofee wenners: Wilhelm Zietsman, Bertie Hoffman, Schalk Fick, Chris Scholtz en Wim Filmalter.