STILBAAI NUUS - Die gewilde Damesliga-Netbaltoernooi van Laerskool Bertie Barnard vind weer plaas in die eerste skoolkwartaal.
Die toernooi groei met rasse skrede en daar het laasjaar selfs twee spanne van Riversdal meegeding.
Dunamis van Stilbaai sal verseker weer hulle titel wil verdedig, terwyl Blue Thunder van Riversdal seker die bordjies sal wil verhang.
Daar sal 'n inligtingsvergadering gehou word om 17:30 op 17 Januarie, om te sien watter spanne kort spelers.
Die vergadering sal by die dorpsvelde plaasvind en volgens Friena Müller gaan hulle dan ook bepaal of 'n "fun liga" terselfdertyd gehou sal kan word.
Inskrywingsvorms is beskikbaar by Laerskool Bertie Barnard en die afsnydatum vir inskrywings is 19 Januarie 2024.
Vir meer inligting of om in te skryf kan die skoolkantoor geskakel word by 028 754 1042 of dan vir Friena by 082 926 6234.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’