STILBAAI NUUS - Van twee jaar oud tot oumas en oupas het Saterdag 30 November aan die 11de Kasselshoop farm run/stap deelgeneem.
Die 5,2 km-roete is deur 69 deelnemers aangepak en voltooi.
Laerskool Bertie Barnard se landloopatlete het hul afrigters en ouers uitgedaag. Na afloop van die draf het hulle hul afrigter, Iain Erasmus, se verjaarsdag op die plaas gevier.
Eben Vorster van Stilbaai, wat vanjaar sy hoërskoolloopbaan by Hoër Landbouskool Oakdale begin het, was eerste by die eindpunt in 'n tyd van 27 minute en 10 sekondes. Hy is deur die vorige byeenkomswenner, Willem-Daniël Matthee (8) wat 25 sekondes later geëindig het, gevolg, met Theo van Zyl wat uit Nieu-Seeland hier gekuier het in die derde plek.
Soos in die Oktober-byeenkoms was die Laerskool Bertie Barnard-leerder Luanné Janse van Rensburg weer die eerste meisie oor die wenstreep in 'n tyd van 31 minute en 45 sekondes. Cecile Bouwer (8) was tweede en Susan Texeira van Albertinia het derde geëindig.
Paulina Saaiman het 'n trofee ontvang nadat sy al 11 die byeenkomste van die seisoen bygewoon het. Isabel Cronjé wat net een byeenkoms vanjaar gemis het, het ook erkenning ontvang.
In die vakansie sal 'n byeenkoms met 'n 5 km-roete elke Saterdag tot op 4 Januarie aangebied word. Wegspringtyd is 08:00. Meer inligting is beskikbaar op www.mystilbaai.co.za
Reghard en klein Rikus Potgieter van Stilbaai.
Van links: Paulina Saaiman en Isabel Cronjé. Foto: Richard Webb
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'