EDEN DISTRIK NUUS - Jaarliks vereer Eden-sportraad en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES) sportpersone wat hulle lewe aan sport toegewy het. Die sluitingsdatum vir nominasies is om die draai, Maandag 20 Augustus.
Kandidate vir toekenning as 'n sportlegende is nie noodwendig mense wat die hoogste vlak van hul sport bereik het nie – inteendeel, baie van hulle het nie eens buite die dorp se grense gekom nie.
Maar in baie gevalle was hulle die legendes van hulle geliefde sportkode. Met hulle liefde, passie, ontwikkeling, talentidentifikasie, gesukkel om fasiliteite te kry, die soebat om borge te kry… Hulle was die spanbestuurders, afrigters, busbestuurders alles in een, het hulle eina-inkomste gebruik om die sport aan die gang te hou, in baie gevalle tot die nadeel van hulle gesinne, hulle was die hekwagte, het die spanne se sportklere self gewas – daar is so baie fasette wat genoem kan word.
Hulle het die fondamente van baie sportkodes, -klubs en self -federasies gelê.
In baie gevalle was persoonlike konflikte en selfs jaloesie die rede waarom daardie werklike legendes uitgestoot is. Dit kan ook wees dat die huidige geslag nie kennis dra van hierdie legendes nie omdat dit nooit aan hulle oorgedra is nie –wetend of onwetend. Daarom is dit so belangrik dat elke klub en sportkode hul geskiedenis koester en oordra aan die jonger geslag.
Eden-sportraad wil graag die publiek versoek om ook ‘n rol in die proses te speel – om hierdie legendes te identifiseer en die betrokke sportfederasies van diesulkes in te lig.
Gaan asseblief uit en wend ‘n ernstige poging aan om hierdie legendes te identifiseer. Ons is dit aan hulle verskuldig.
Basiese kriteria
- Persone wat ‘n beduidende bydrae tot sport in hulle leeftyd gelewer het, verkieslik ouer as 55 jaar en verkieslik ook afgetreë.
- Persone wat as ikone in hulle gemeenskappe beskou word.
- Persone wat ‘n rol gespeel het in die ontwikkeling van sport voor 1992.
- Persone wat voorheen nog nie erkenning geniet het nie en as gevolg van hulle geslag, ras en geografiese gebied dalk uitgesluit was.
- As so ‘n persoon alreeds as legende vereer is, kan hulle nie weer genomineer word nie.
Ken u so 'n persoon?
Vir meer inligting of nominasies van sulke legendes, kan Dave van der Walt by 082 773 4901 of sportcouncil.eden@gmail.com gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'