HESSEQUA NUUS - Dit was nog altyd Jana Neethling (21) van Rawsonville se droom om die Trans Agulhas-rubberbootwedvaart saam met haar pa aan te pak en vanjaar is dit bewaarheid.
Jacques Neethling het die wedvaart in 1994 voltooi, maar dis die eerste keer wat hy en Jana dit saam doen. Hulle het op Dinsdag, 28 Desember op Stilbaai aangekom en albei beskryf die wedvaart as verskriklik veeleisend.
"Ek sal nie sommer 'n vrou aanraai om dit aan te pak nie omdat dit erg op jou liggaam en meer spesifiek jou lae rug is, maar as dit op jou wenslysie is moet jy dit doen," sê Jana.
Pa en dogter het al in September begin voorberei, maar Jacques sê dat die werklikheid 'n heel ander storie is.
"Niks kan jou op die werklikheid voorberei nie. Dit is 700km van harde stampe en baie keer rowwe see. Veral van Gouritsmond af was die tweede been baie rof."
Op pad na die eindstreep.
Met die Koning van die Branders-resies het 'n ander boot in hulle boot vasgery nog voor die resies begin het, maar gelukkig is Jana, wat reg in sy pad gestaan het, nie beseer nie.
Hulle spandeer saans om te gesels oor die dag se ervarings en beplan die volgende dag se roete, werk hulle brandstof uit, vryf die pyne uit en kom vroeg in die bed.
Ma Lienke is natuurlik baie trots op pa en dogter, maar sy is heel verstaanbaar ook baie bekommerd dat hulle sal seerkry. Sy bid elke dag dat hulle veilig is en sorg dat die ondersteuning die wedren vir hulle so maklik moontlik maak.
Aanvanklik was sy nie so geneë dat hulle die avontuur aanpak nie, maar sy het besef hoe belangrik dit vir hulle is.
Jana hardloop vir die eindpunt. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'