RIVERSDAL SKOLE SPORT - Die skool het op 26 September hulle jaarlikse sportdinee in die skoolsaal gehou. Dit is 'n aand waar daar aan die skool se sportmanne en -vroue erkenning gegee word.
'n Heerlike driegangmaaltyd is bedien en Danie Geldenhuys, uitstekende motiveringspreker, en oudleerder was die spreker van die aand. Danie was in 2000 hoofseun van die skool, kaptein van die eerste rugbyspan en in 1999 in die Cravenweekspan. Na skool studeer hy wynkunde en beoefen die beroep vir drie jaar. Hy trou in 2006 met Alida Geldenhuys (oudleerder van HSL), en vandag is Danie en Alida die trotse eienaars van Bali Trading. Bali Trading bestaan uit vyf takke, en daar werk tans 80 mense, met die sesde wat in November oopmaak. Danie het in 2010 begin draf, en vanjaar sy vyfde agtereenvolgende Comrades-marathon voltooi.
Daar is verskeie toekennings oorhandig, onder andere kaptein van die eerste spanne - netbal: Elana van Zyl; hokkie: Andrie Swart; seunshokkie: Elkie van Wyk; rugby: Allister Miggels.
Reevin February het die Abrie Diener-trofee ontvang vir vyf drieë tuis gedruk, (een in elke wedstryd).
Die netbalspanne met die beste gees was die o.15A- en B-span. Die o.16A's was die hokkiespan met die beste gees. Die rugbyspan wat die beste gees gehad het was die o.16A's. Die spanne met die beste wen-gemiddeldes was die o.15A-netbalspan, die o.16A-hokkiespan en die eerste rugbyspan. Die eerste netbalspan is as die beste eerste span vir die jaar aangewys.
Volgens Mnr. Piet de Villiers (skoolhoof), was dit 'n baie suksesvolle sportjaar met mooi prestasies.
Die vier eerstespan kapteine, saam met Danie Geldenhuys, wie ook die oorhandiging van die toekennings behartig het.
"Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus."