Update
HEIDELBERG SPORTNUUS - Een van Heidelberg se spogatlete, Jo-Ané van Dyk het op 21 Julie saam met die res van die Suid-Afrikaanse span vir die Olimpiese Spele na Tokio vertrek.
Van Dyk, dogter van Johan en Marjo van die plaas Karringmelksrivier net buite Heidelberg, het die SA Olimpiese span as spiesgooier behaal.
Sy sal op 3 Augustus tydens die uitdunne teen die bestes in die wêreld haar slag moet wys. Sy is egter vol vertroue dat sy tot die finale ronde van 12 deelnemers op 6 Augustus sal deurdring.
Intussen oefen die oud-leerder van onderskeidelik Hoërskool Heidelberg en Hoërskool Outeniqua hard en is gefokus om met 'n medalje terug te keer, terwyl sy en haar spanmaats die besonderse geleentheid terdeë geniet.
Van Dyk spog met 'n persoonlike beste afstand van 61,19, wat sy onlangs in die Tseggiese Republiek verwerf het. Haar persoonlike beste afstand is net ongeveer 11 meter buite beide die Olimpiese- en wêreldrekords. Die wêreldrekord is 72.28m en die Olimpiese rekord is 71.53m.
Sy is oortuig daarvan dat sy die huidige wêreldkampioen, Kelsey-Lee Barber, goed opdraande kan gee. Heidelberg, maar ook die res van Suid-Afrika staan bankvas agter haar en wens haar sterkte toe.
Jo-Ané van Dyk staan regs agter die Suid-Afrikaanse vlag op die OR Tambo-lughawe voor hul vlug na Tokio om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Foto's verskaf
Jo-Ané van Dyk word deur 'n paar van haar spanmaats in 'n ligte oomblik opgetel. Kyle Blignaut (gewigstoot), Rocco van Rooyen (spiesgooi) en Jason van Rooyen (gewigstoot) - almal in hul amptelike kleredrag.
Vorige artikel: Heidelberger vertrek na olimpiese spele
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'