HEIDELBERG SPORT NUUS - 'n Pragtige baan en 'n perfekte dag met die ideale omstandighede vir rolbal was 'n wenresep vir Heidelberg-rolbalklub se ope dag op 13 Julie.
Die geleentheid is deur SSK geborg en spanne van Barrydale, Ladismith, Riversdal, Riviersonderend, Stilbaai, Swellendam, Witsand en natuurlik Heidelberg het deelgeneem.
Dit was die vierde jaar wat SSK 'n borgskap vir die geleentheid gegee het en Heidelberg-rolbalklub bedank hulle opreg vir hul betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap.
Die goeie toestand van die baan is te danke aan die harde werk en toewyding van die perkemeester André Hoskin en sy assistent Rowhan Roberts.
Riversdal het as algehele wenners uit die stryd getree, met 'n span van Witsand tweede en een van Heidelberg se spanne in die derde plek.
Na die rolbal het almal saam 'n heerlike maaltyd geniet.
Enigiemand wat belangstel om rolbal te speel, is welkom om Woensdae en Saterdae om 14:00 by die klub aan te meld. Beginners is ook welkom. Vir meer inligting kan John Evert by 072 389 4488 gekontak word.
Die wenners van die ope dag, Riversdal, saam met A'nel Terblanche van SSK wat die pryse uitgedeel het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'