Update
STILBAAI NUUS - Jan Heenop en Nico Steenekamp het kragte saamgesnoer om Saterdagoggend, 30 April, 'n driekampbyeenkoms in Stilbaai aan te bied as 'n proeflopie om te sien of so iets suksesvol sal wees.
Ongeveer 20 persone van alle ouderdomme het die uitdaging aangepak en dit uitgespook om eerstens die resies te voltooi, maar ook om dit in 'n goeie tyd te doen.
Dit was 'n strawwe baan en almal moes die koue Goukourivier aandurf om vanaf die invloei van die palingstroompie tot by die mond te swem, 'n afstand van 1000 m. In April om 08:00 is die water nogal koud, maar sommige het dit net in hul swemklere aangepak.
Daarna was dit per fiets vanaf Lappiesbaai-parkeerterrein, twee keer na Preekstoel en terug en een keer tot by die lughawe en terug. In totaal was dit 'n afstand van 20 km, wat die verskriklike steil opdraand vanaf die onder- tot bopunt van Pauline Bohnen-natuurreservaat ingesluit het.
Terug by Lappiesbaai het die deelnemers strandlangs tot by Preekstoel en terug gedraf, maar gelukkig was die 6 km-afstand meestal op harde, nat sand.
Hoewel die idee nie was om wenners te hê nie omdat elkeen teen hom- of haarself deelgeneem het, het André van der Merwe en Mirjam Breedt stof in die oë van die ander deelnemers geskop.
Een en almal was dit eens dat hulle dit baie geniet het en verseker weer sal doen. Daar was egter eenstemmigheid dat 'n mens beslis voor so 'n byeenkoms moet oefen.
Sommige het slegs een van die drie bene vir die pret gedoen.
Die koue water het swemmers nie afgeskrik nie.
Ilse Frits trap die steil opdraand by die natuurreservaat uit.
Mirjam Breedt is nie te moeg om te glimlag nie.
Een van die organiseerders, Nico Steenekamp, het ook deelgeneem.
Vorige artikel: Driekamp-proeflopie 'n sukses
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'