TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Sport, beide in die Wes-Kaap en die res van die land is 'n gevoelige slag toegedien met die ontydige dood van die veteraan-sportadministrateur en afrigter Abrie de Swardt.
De Swart (70), wat laat verlede jaar aan 'n hartaanval beswyk het, se bydrae tot sport is op Dinsdag, 22 Junie gehuldig toe 'n oorkonde aan sy eggenote Sharon en seun Abrie oorhandig is.
Sy seun Martin kon nie die verrigtinge bywoon nie.
De Swart is as 'n lojale en passievolle dienaar van sport beskryf. Hy was etlike jare die hoof van die WCPSC Coaches Commission. Hy het oor 'n onvervangbare skat van ervaring en kennis beskik.
Abrie, in lewe van George, het sport in die groter Suid-Kaap-omgewing gedien. Hy was lid van verskeie sportorganisasies en was onder meer president van Atletiek Suid-Westelike Distrikte, uitvoerende lid van die Eden Sport Council, Eden- en Wes-Kaapse afrigterskommissie en bestuurder van die Eden Sport Academy.
Hy was ook 'n erkende middelafstandafrigter van die International Athletics Association of Athletic Federations (IAAF). Hy het as lid van die afrigtingspan die Suid-Afrikaanse atletiekspan na die Olimpiese Spele in 2004 in Athene vergesel.
Sharon de Swart het vlugtig vertel van haar eggenoot se passie vir sport in die algemeen. Sy het ook uitgewei oor sy toewyding aan sportontwikkeling en die ontginning van atlete wat potensiaal getoon het.
Die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, minister Anroux Marais het haar innige meegevoel aan Abrie se familie, vriende en die sportgemeenskap betuig. "Ons eer sy nalatenskap wat sal voortleef as inspirasie vir baie jong atlete."
Die Suid-Afrikaanse atletiekstatistici (SAAS) het in 2008 besluit om Suid-Afrika se voorste afrigters in die Hall of Fame te vereer vir die rol wat hulle in die ontwikkeling van atletiek in Suid-Afrika gespeel het.
Slegs 23 afrigters, waaronder Abrie de Swardt, is op hierdie manier erken, 'n klinkklare bewys van sy statuur in die atletiekwêreld.
Saam met sy kollega Ian Harries was De Swardt die eerste Suid-Afrikaner wat hom in 1994 as IAAF-afrigterslektor en kursusdirekteur bekwaam het. Abrie de Swardt was 'n legende en sy groot bydrae tot sport sal sy blywende nalatenskap wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'