Hierdie kompetisie word vir die afgelope paar jaar aangebied en baie van die spelers en spanne wat in die eerste kompetisie was, neem steeds deel. Teen hierdie tyd is hulle al gesoute en bekwame spelers waarmee rekening gehou moet word.
*Die uiteindelike wenspan wat 'n ete by Nibbling Squirrel losgeslaan het, was die Pumas wat bestaan uit vier geregsdienaars, naamlik Noël Abelsohn, Desmond Abelsohn, Jeffrey Bezuidenhout en Abba Juta. Wat hulle oorwinning merkwaardig maak, is die feit dat hulle verlede jaar vir die eerste keer rolbal gespeel het.
Tweede was Die Steg, by name die Erasmusse, Hardus, Frik en Awie bygestaan deur Dian Loftie-Eaton. Frik sê Dian, synde nie 'n Erasmus nie, was die swak skakel. Die Central Boutique Hotel het vir hulle iets te ete geborg.
Derde was Boshoff-Visser se span, wat bestaan uit Mauricia, Pieter, Francois en Marnus. Hulle sal iets by Maxi's kan gaan geniet. Vierde was W & J Motors. Die vier wat 'n ete met die komplimente van Riversdal Spur sal gaan geniet is George Uys, Francois van Dyk, Chris van Schalkwyk en Niel Briedenhann.
Rolbal het die deelnemers so gebyt dat die meeste van hulle vuur en vlam is om elke Donderdagaand te wil speel. Uiteraard is hulle baie welkom en word lede van die publiek ook hartlik uitgenooi om te kom meedoen in die pret en ontspanning.
Daar is natuurlik enkele reëls en voorwaardes van toepassing om spel behoorlik te orden en dit vir almal genotvol te maak. Die klub sien julle graag Donderdagaande vanaf 17:45.
Die Pumas was die uiteindelike wenners van die besigheidsliga van Riversdal Rolbalklub.