MOSSELBAAI NUUS - Nie eens ’n sterk suidooster kon die gees van die Suid-Kaap Sages-gholfspelers demp toe 79 spelers op Maandag 20 Oktober by die Mosselbaai-gholfklub saamgetrek het vir hul maandelikse byeenkoms nie.
Die wind het die spel uitdagend gemaak, maar die uitslae van die Individuele Stableford-kompetisie wys dat vele dié toets met gemak deurstaan het.
Die topdrie spelers was Pierre le Roux van Stilbaai (43 punte), Pine Pienaar (42) en Richard Peasy (41).
Ander noemenswaardige uitslae sluit in Danie Terblanche (Mosselbaai) met 40 punte, en Bennie Mintoor (Boggomsbaai) met 38 punte.
Die naaste-aan-die-pen-pryse is gewen deur Bennie Geldenhuys (putjie 8) en Gert Brink (putjie 12), terwyl Pine Pienaar en Brink ook die enigste spogtwees van die dag op putjie 12 aangeteken het.
Sages bedank die Mosselbaai-gholfklub vir hul gasvryheid en JC Slagtery van Riversdal vir hul gereelde borg van worspryse.
Die Suid-Kaap Sages-groep het, soos vorige jare, geweer ’n donasie aan ’n plaaslike liefdadigheidsinstansie oorhandig.
Vanjaar se skenking is aan die Albertinia-versorgingsdienste gemaak, waar bestuurder Annelise Minnie en haar span uitstekende werk doen om die ouer gemeenskapslede by te staan.
Die volgende Sages-byeenkoms vind op 17 November in Stilbaai plaas, met ’n Beterbal-formaat waar die wenners die gesogte Hennie Huyser-trofee sal verower.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’