ALBERTINIA NUUS - Een van die Tuinroete se wynjuwele, Jakkalsvlei, gooi Saterdag, 24 Januarie sy wingerde en pragtige omgewing oop vir bergfietsryers en drawwers om dit te kom ontdek tydens twee verskillende sportbyeenkomste.
Die eerste Jakkalsvlei Bergfietsren oor 25km en 60km onderskeidelik, asook die Jakkalsvlei 8km wedloop vind op dié dag plaas en deelnemers van oral word verwag om die vallei tussen die Langberge te besoek.
As bergfietsry nie jou spesialiteit is nie, maar jy hou van draf, sal die oggendlug en interessante terrein oor die 8km jou betower. Jy mag dalk langs die pad ’n skaam jakkals of ’n trop bobbejane teëkom wat jou aanmoedig.
Nooi ook jou vriende en familie saam om by die splinternuwe proelokaal te kom ontspan en kwaliteitwyne te proe terwyl hulle aan kaasborde en pizzas smul. Die proelokaal, wat in Desember ingewy is, smelt perfek met die omgewing saam en kan enige dag met die luukstes in die Kaapse Wynlande vergelyk word.
Vir die laatslapers word inskrywings op die dag van die byeenkomste aanvaar en kan tussen 05:30 en 06:30 vir die 60km en tussen 06:30 en 07:30 vir die 25km gedoen word.