SPORT NUUS - Alle paaie lei Saterdag 12 Augustus na Rosemoor-stadion waar die bulspanne van Hoërskool George en Hoërskool Pacaltsdorp mekaar die stryd aansê in die jaarlikse FNB Classic Clashes.
Hoërskool George het in 2022 as wenners uit die stryd getree, maar Pacaltsdorp sal graag hierdie jaar die teendeel wil bewys.
Albei spanne staan onder bekwame afrigters by beide skole. Jaarliks heers daar vooraf groot opgewondenheid oor die stryd tussen die buurskole.
Die sportsoorte wat Saterdag aangebied sal word is:
Rugby: o. 14-seuns , o. 15-seuns , o. 16-seuns, o. 19B-seuns, o. 19-meisies, o. 19A-seuns,
Netbal: o. 14, o. 15, o. 16, o. 17, o. 19,
Ander: VCSV, dominos, skaak en onderwyserskrieket.
As 'n nuutjie sal daar ook as voorskou vir FNB Classic vir die eerste keer in die geskiedenis 'n 4 km-pretloop aangebied word. Hierdie pretloop beloof om ten minste 500 atlete te trek. Die wedloop sal om 07:00 afskop.
Van die bekende atlete in die SWD by name: Lloyd Bosman, Selwyn Matthew en die Pacaltsdorp Stam hardlopers, wat ook deel van Nedbank-hardloopklub is, sal as vertoonvenster vir padhardloop deelneem aan die pretloop.
Dit is 'n manier waarop hulle aan jeugdiges wil kom toon, dat jy deur padhardloop iets in die lewe kan bereik.
Die inskrywingsgeld vir pretloop beloop R30 vir volwassenes en R20 vir laer- en hoërskoolleerders. Medaljes sal oorhandig word aan die eerste 500 atlete wat die wenstreep oorsteek. Tydens die prysuitdeling sal daar ook gelukstrekkings wees met groot pryse wat uitgeloof sal word.
Hierdie wedloop sal ook dien as herinneringswedloop aan die busongeluk wat 42 jaar gelede plaasgevind het, waarin 'n paar leerders dood is. 'n Beroep word gedoen op oudonderwysers, oudleerders, leerders, ouers en die breë publiek om hierdie fondsinsamelingsprojek te ondersteun.
Voorafinskrywings kan gemaak word by Hoërskool George of skakel met Desmond Prins by 074 927 0641, Rodney Cupido 083 309 5095 of Elmo Botha 066 227 5501 vir meer inligting oor pretloop.
Daar word met groot afwagting uitgesien na die rugbystryd tussen hierdie twee skole. Volgens die afrigter van die o. 19A-span van Hoërskool George, Sharmark Pedro, is hulle slaggereed vir die stryd.
Die afrigters van die ander sportsoorte van Hoërskool George is baie optimisties dat hulle Pacaltsdorp met die kous oor die kop gaan huis toe stuur. Leerders begin mekaar al op sosiale media die stryd aansê. Die dag beloof om skitterende rugby, netbal en sokker op te lewer. 'n Beroep word gemaak op die breë publiek om die FNB Classic te kom ondersteun aangesien FNB finansieel baie insit en terugploeg in ons plaaslike gemeenskappe.
Daar sal ook stalletjies beskikbaar wees waar die hongeres hulle innerlike kan versterk. Daar sal ook springkastele beskikbaar sal wees vir die jonger deelnemers. Vir verdere inligting oor die FNB Classic kan u gerus die skoolkantoor skakel by 044 871 1194.
Hoërskool George se o. 19-rugbyspan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’