Update
STILBAAI NUUS - Die organiseerders van die maandelikse Kasselshoop Farm Run wat tans nie kan plaasvind nie, het aan 'n plan gedink om mense steeds aan die draf te hou en boonop die plaaslike welsynsorganisasie, Badisa te ondersteun.
Volgens Elza Thiart-Botes, wat gedurende die inperkingstyd aan die virtuele ren, die Mzanzi Lockdown marathon deelgeneem het, het hulle besluit om die Covid-19 Agterplaasdraffie te organiseer.
Deelnemers wat inskryf en 'n R50-donasie betaal, sal 'n unieke medalje ontvang. Informele resultate word ook bygehou van diegene wat hul tye deurstuur en hoewel dit nie verpligtend is nie, word dit met groot geesdrif gedoen.
Deelnemers het nou reeds van sover as Bahrain, Gauteng, Rustenburg, die Kaap en ook van Stilbaai, Riversdal, Mosselbaai, Vanwyksdorp en omliggende dorpe ingeskryf en deelgeneem en stuur inligting en foto's van hoe en waar hulle aan die Agterplaasdraffie deelneem. Hulle draf en stap en span selfs oefenapparate in terwyl daar selfs diegene is wat dit in die aand gedoen het. Stories word op die byeenkoms se Facebook-bladsy gedeel.
Dié virtuele byeenkoms eindig Vrydag 30 April omdat daar 'n moontlikheid bestaan dat persone daarna, volgens die voorskrifte van vlak 4 van die Covid-19 regulasies, buite hul erwe en met toestemming mag oefen.
Nadat die byeenkoms ten einde geloop het, sal die medaljes vervaardig en na deelnemers gepos word. "Dit sal voorwaar 'n unieke medalje wees om as aandenking te hê," sê Thiart-Botes.
Skryf só in:
- Gaan na http://mystilbaai.co.za/covid-19-agterplaasdraffie/
- Betaal 'n donasie indien 'n medalje verlang word;
- Gebruik jou naam en van as verwysing by betaling;
- Stuur 'n e-pos met die bewys na elza.thiart@worldonline.co.za of WhatsApp dit na 082 458 8517;
- Lê 'n afstand van 5 km by jou huis op enige manier af, draf of stap, binne of buite;
- Stuur jou tyd deur as jy wil, resultate sal bekendgemaak word.
- Die Kasselshoop Farm Run het vir die afgelope twee jaar elke laaste Saterdag van die maand op die plaas by Kasselshoop Kaas plaasgevind en sal weer begin wanneer die Covid-19-regulasies dit toelaat.
Gerda Young van Mosselbaai het selfs vir haar ’n nommer gemaak.
Dié uitsonderlike medalje sal na jou gepos word nadat die byeenkoms verby is.
Vorige artikel: Draf Covid-19 kaf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'