Gholfliefhebbers het van sover as George, Plettenbergbaai, Riviersonderend en Bredasdorp gekom om die inisiatief van die skool se staatmakers te ondersteun. Volgens Laurence Moolman, een van die KOG lede en hooforganiseerder van die dag, is gholf van 'n hoë standaard opgelewer en was die kompetisie baie mededingend tussen die deelnemers.
Daar was ook groot pryse op die spel vir die verskeie wenners en het die twee spelers van Bredasdorp, G Cupido en R McCarthy met die louere weggestap en elkeen met 'n halwe bees die baan verlaat.
Die tweede prys is deur L Oktober en J Michaels van Melkhoutfontein, opgeraap terwyl P Baadjies van Swellendam en T Adams van George, met die derde prys weggestap het. Laasgenoemde is 'n boorling van Heidelberg, maar is nou al 'n geruime tyd in George woonagtig.
Die organiseerders wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om al die deelne-mers, asook hul borge en ondersteuners hartlik te bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag. Volgens Moolman het hulle R32 000 geïn om die skool en leerders te onderskraag.
Vivian Prins, skoolhoof staan heel links saam met die KOG lede.
ARTIKEL EN FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'