Update
RIVERSDAL GHOLFNUUS - Met Covid-19 wat besig is om met 'n derde vlaag sy kloue in te slaan, het Sages van hul toekomstige kompetisies gekanselleer.
Hulle kon darem nog op Dinsdag, 22 Junie op die ruim ooptes van Riversdal se gholfbaan gaan ontspan. 36 Sagesspelers van die Suid-Kaap het bymekaargekom en aan 'n mystery-beterbalkompetisie deelgeneem.
"Dit was groot pret, want op elke putjie het daar 'n ander opdrag gestaan van hoe die twee spelers wat saamspeel, se stablefordpunte vir daardie putjie gaan werk," vertel Marius Loubser.
Partykeer is speler A se punte verdubbel, dan weer die swakste van die twee se punte wat alleen getel het en nog baie ander kombinasies wat gegeld het. "Een ding wat op die ou end van groot belang was, was die feit dat albei spelers goed moes speel om aan die wenkant te bly."
Een speler wie se naam na verlede Dinsdag aan die groot klok gehang moet word, is die 89-jarige Pieter Vaughan.
Nie net het hy albei naaste-aan-die-pen (putjies 8 en 4/13) pryse gewen nie, maar hy het ook op sy eie 'n formidabele 43 stablefordpunte aangeteken.
Wenners
1. Chris Barnard en Anthony Slater (Mosselbaai) 68; 2. Cassie Swanepoel en Marius Loubser (Boggomsbaai) 65; 3. Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) 62; 4. Davie Roberts en Josef Botes (spookmaat vir Davie)(Riversdal) 59; 5. Kwartus Sieberhagen en Leon Neveling (Mosselbaai) 59; 6. Grové Koch en Josef Botes (Riversdal) 58.
Die enigste spogtwee is deur Freddie Stander van Boggomsbaai op putjie 4 aangeteken.
Sages bedank die bestuur en personeel van die gholfklub vir veral die setperke wat in so 'n goeie toestand is, asook hul borge vir die skenking van die pryse.
Die volgende Sagessaamtrek is 'n IPS-kompetisie op Dinsdag, 20 Julie op Boggomsbaai.
Wenners op Riversdal: Marius Loubser en Cassie Swanepoel, Nic Marais (voorsitter), Chris Barnard en Anthony Slater, asook Breggie en Stoffel Maritz.
Vorige artikel: 'Vreemde' beterbalkompetisie in Dal
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'