Hierdie jaar het daar meer as 70 spelers deelgeneem aan dié gewilde gholfdag waaronder ook 'n paar bekendes soos Oosthuizen self, Brendan Grace en George Coetzee (almal Europese gholftoernooi spelers van Suid-Afrika).
Danie Gerber (Springbok senter) en Arno Jordaan (sanger) was ook teenwoordig. Oosthuizen en Piet Fourie het die dag gewen en Hannes Human en Hans-Jurie Human was tweede. Hoewel dit snikkend warm was, is die dag se spel in goeie gees gespeel. Oosthuizen het heelwat pryse geborg, waaronder gholfsakke, -skoene, -handskoene, -balle en Louis 57 Foundation wyne. Hy het ook gesorg vir eetgoed vir die spelers na afloop van die dag se spel.
Die Louis 57 Foundation vrouens het ook 'n vrouedag aangebied en fondse is ingesamel om gestremde kinders te help. Allerlei geraamde gholfprente, asook Ernie Els se gholfskoene en 'n getekende groot skildery van Danie Gerber is opgeveil.
Oosthuizen het ook 'n nuwe speelparkie oorkant die gholfbaan laat oprig om fondse in te samel vir die Louis 57 Foundation vir gestremde kinders. Die speelparkie kan gehuur word deur skole, instansies of vir kinderpartytjies en word dit benut deur gholfklublede se kinders. Die dag was 'n reuse sukses en mense van regoor die hele land het op Albertinia saamgetrek.

Van links is George Coetzee, Louis Oosthuizen, Arno Jordaan, Danie Gerber en Brendon Grace tydens die Louis Oosthuizen gholfdag op Albertinia.