Die gholfdag word reeds jare aangebied en is een van vyf welwillendheidsdae van die gholfklub. Om die rede word 'n gedeelte van die inskrywingsfooi aan die Stilbaai Lions oorbetaal.
Die gholfklub wil graag 'n bydrae tot die gemeenskap maak en is dit een van die maniere hoe dit bewerkstellig word. Mnr Joggie Kastner, die Stilbaai Lions verteenwoordiger het die gholfklub bedank vir hulle bydrae en ook die feit dat die gholfklub bereid is om as sportklub welwillendheid organisasies by te staan met hulle fondsinsamelings pogings.
Die eerste spelers het ongeveer 07:00 afgeslaan te midde van bedenklike weerstoestande, maar het die weer verbeter met die verloop van die dag.
Goeie gholf is gespeel en is die dag gewen deur Willie Deyzel, wie op tagtig jarige ouderdom, die oudste deelnemende speler was. Hy het 'n bruto 82 gespeel vir 44 punte. Hy het voorwaar die ander spelers goed uitgestof. Dup du Toit was tweede met 41 punte, Len le Roux derde ook met 41 punte en K. du Preez, U. Bachman, J. Cronje en R. Oosthuizen met 40 punte. In totaal was daar 14 pryse en het die prystafel swaar gedra aan die pryse. (Gavin Bayman, bestuurder, Stilbaai Gholfklub).

Die oorhandiging van die tjek aan die Stilbaai Lions. Van links na regs: Joggie Kastner (Stilbaai Lions) Alf Huggett ( Kaptein) en Peet Duncan (President).

Van links na regs: Willie Deyzel, Dup du Toit, Len le Roux en Joggie Kastner (Stilbaai Lions).