HESSEQUA KRIEKETNUUS - Die Young Guns-span is Sondag, 20 Desember as die eerste kampioene van die Rekon Jeugkriekettoernooi gekroon toe hulle die gunsteling, Wynland FC met vier lopies in die Beker-eindronde gewen het.
Dit was ’n naelbytstryd op die Young Stars Ovaal tot op die laaste bal van die toegelate 10 boulbeurte.
Young Guns het eerste gaan kolf en die skaflike totaal van 106/4 in hul toegelate 10 beurte behaal.
Berthal September het 52 lopies vanaf 24 balle (6x6) opgestapel. Hy was ook as die speler van die toernooi aangewys. Ongelukkig vir hulle kon net Devahno van Niekerk met 23 lopies vanaf 27 balle (1x6, 1x4) September met die kolf ondersteun.
Vir Wynland het Elrick Pretorius met 3/13 na 2 beurte die beste met die bal gevaar. Gerjoh van Niekerk het die ander paaltjie met 1/22 na sy 2 beurte laat kantel.
Wynland moes 107 vir ’n sege aanteken, maar kon net 102/6 in hul 10 beurte aanteken na ’n paar onwyse besluite van die laaste kolwers. Pretorius met 30 lopies vanaf 16 balle (3x4, 2x6) het die beste met die kolf gevaar.
Alwin Cronjé met 19 vanaf 12 balle (2x4, 1x6), Carlo Williams met 16 vanaf 14 balle (1x4, 1x6), asook Vennito van Niekerk met 15 vanaf 9 balle (1x4, 1x6) kon ook dubbelsyfers behaal.
Vir die kampioene het Jaylin Opperman met 2/14 na 2 beurte, Jo-Wayden Lewak met 2/19 na 2 beurte en Herschelle Barlow met 1/21 na 2 beurte die paaltjies ingeoes.
In die finaal om die plaattrofee het die Turtles vir Dé Javu met 40 lopies gewen na die wenners die yslike totaal van 173/2 in hul toegelate 10 beurte aangeteken het.
Vir die Turtles het Corbin Swartbooi met 86 lopies vanaf net 32 balle die beste met die kolf gevaar. Hy is goed deur Marcelino Meyer met 42 vanaf 23 balle bygestaan. Johannes Kleynhans met 10 lopies vanaf 6 balle kon ook dubbelsyfers behaal.
Marquin Oktober met 1/16 vanaf sy 2 beurte was die enigste suksesvolle bouler vir Dé Javu.
Dè Javu wat 174 vir ’n sege moes aanteken, kon net 133/7 in hul toegelate 10 beurte opstapel. Oktober met 53 vanaf 28 balle het hard probeer om sy span tot ’n oorwinning te kolf. Ryan Petersen met 28 vanaf 19 balle, Jurgen Roberts met 10 vanaf 9 balle, asook Elandré Links met 10 vanaf 7 balle het alles in die stryd gewerp om die teiken te behaal.
Vir die Turtles het Percell Marais met 2/25 na 2 beurte, Warren Tarentaal met 2/35 na 2 beurte en Corbin Swartbooi met 1/10 na 2 beurte die paaltjies laat kantel.
Tydens die oorhandiging het Vennito van Niekerk (sameroeper) al die spelers, ondersteuners, donateurs en ander rolspelers bedank vir hul bydrae tot die sukses van die toernooi. Volgens Van Niekerk gaan dit ’n jaarlikse instelling wees om sport en veral krieket onder jeugdiges te bevorder.
Elrick Pretorius is as beste bouler en Duan Roberts as beste kolwer aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'