HEIDELBERG KRIEKET-NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag 20 Oktober in hul eerste SWDK Promosieliga-wedstryd tuis teen hul aartsvyand, Riversdal, die bordjies verhang en die stryd met een paaltjie beklink.
Die tuisspan het ook met die wedstryd die gesogte Leonard Hurling wisseltrofee vir die eerste keer sedert die 2015/16-seisoen gebuit. Met dié wen het hulle ook bewys dat hul T20-sege vroeër die seisoen geen gelukskoot was nie.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf. Dit het nie na 'n goeie besluit gelyk nie toe die besoekers eers twee paaltjies vir die verlies van net 29 lopies na 9.5 beurte verloor en daarna hulle op 66/5 bevind het na 15.1 beurte. Na twee stewige vennootskappe van 47 om die sesde paaltjie tussen Byron Esau (17) en Lendle Evertse (26), asook Cheslin Cloete (28) en Donny Pietersen met 8 om die negende paaltjie, het hul egter teruggeveg en 'n skaflike totaal van 176 almal uit in 36.2 beurte behaal.
Jason van Rensburg met 25, Pieter April (kaptein) met 20 en Paul Cupido met 16 het ook dubbelsyfers behaal.
Vir United het Elrick Pretorius met die bal uitgeblink en 4/19 na 7.2 beurte platgetrek. Corbin Swartbooi, Pieters, Jaques Thyse, Enzo Lodewyk en Jaylin Opperman het die ander paaltjies geneem. Danielo du Preez was ongelukkig om nie 'n paaltjie in te oes nie, maar was die mees ekonomiese bouler.
Die seëvierende spelers en hul spanbestuurder, Michael Williams (heel links) saam met Jaques Thyse (kaptein) langs hom, is in hul skik om met die gesogte Leonard Hurling-wisseltrofee na sewe probeerslae te pronk. Elrick Pretorius, speler van die wedstryd , staan trots met die trofee. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Die tuisspan moes 177 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken en dit het voorgekom dat hulle dit redelik gemaklik sou kon haal nadat die aanvangskolwer, Berthal September 20 lopies vanaf die eerste twee boulbeurte gemoker het. United se ervare aanvangskolwer, Andrew Pieters, het teleurgestel en is met geen lopie agter sy naam weer terug in die kleedkamer. September is uit met sy totaal op 38 vanaf 42 balle. 'n Stewige vennootskap van 68 lopies om die vyfde paaltjie tussen Lodewyk (27) en Pretorius (55) het die tuisspan weer op koers gebring.
Met die teiken nog 20 lopies kort, het die vennootskap om die laaste paaltjie senutergend geword, maar het Du Preez met 14 en Opperman met 7 die knoop vir United deurgehaak.
Vir Riversdal het Cupido, Granwin Scholtz, Pietersen en Van Rensburg die paaltjies laat val. Pretorius is as speler van die wedstryd aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'