HEIDELBERG KIRIEKET-NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 13 Oktober in hul SWDK T20 kwarteindstryd teen Pioneers van Knysna vasgeval en met ses paaltjies die stryd verloor.
Die wedstryd het twee ure laat begin as gevolg van die vorige dag se reën. Die tuisspan het die loot gewen en besluit om Heidelberg United in te stuur om te kolf. Met die tuisspan se provinsiale SWD en Kaapse Kobras bouler, Marcello Piedt as openingsbouler wat die wedstryd se enigste leë beurt in sy eerste beurt afgestuur het, het dit na ‘n goeie besluit gelyk.
Die besoekers se ervare aanvangskolwer, Andrew Pieters het egter ander planne gehad en 14 lopies van die tweede beurt, wat drie viere ingesluit het, geslaan. Hy het in ‘n woordewisseling met Piedt in die volgende beurt betrokke geraak nadat hy laasgenoemde vir ‘n vier gemoker en sy fokus verloor het. Hy is uit toe hy deur nog ‘n SWD speler, Brandon Louw met sy telling op 18 van nege balle na ‘n halfhartige hou uitgevang is.
United se klolwers het oudergewoonte nie hulself genoeg tyd gegun om hul paaltjies te beskerm nie en het hul paaltjies op kritieke tye verloor. Hulle was almal uit vir 90 na 16.1 beurte, met net Pernell Conradie met 15 lopies (1x6;1x4) en Berthal September met 10 wat 1 ses ingesluit het, wat ook dubbelsyfers kon behaal.
Vir Pioneers het Danrick Moodien met 4/16 na 4 beurte die beste met die bal gevaar. Piedt het met 2/11 met 1 leeg na 3.1 beurte ook goed gevaar. Die ander paaltjies is deur Claude Terblanche met 1/14 na 3 beurte, Lelethu Nzuzo met 1/12 na 2, Keith Oraai met 1/14 na 2 en Louw met 1/22 na 2 beurte, ingeryg.
Pioneers moes 91 in hul toegelate 20 beurte aanteken, en het die teiken na 16.2 beurte vir die verlies van net vier paaltjies behaal. Moodien met 30 lopies wat 4 viere ingesluit het, het die beste met die kolf gevaar. Louw met 14 (3x4) en Ferdi Heuer ook met 14 wat 1 vier ingesluit het, het ook hul deel bygedra met die kolf.
Vir United het Du Preez met 1/6 na 2, Pieters met 1/9 na 2.2, Jaques Thyse met 1/12 na 3, en Enzo Lodewyk met 1/22 na 3 beurte, het die vier paaltjies platgetrek.
United speel Saterdag 20 Oktober hul eerste ligawedstryd tuis teen hul aartsvyand, Riversdal, en sal hulle wil verbeter op hul onlangse T20 sege oor hul bure. Die wedstryd het ook die Leonard Hurling Wisseltrofee op die spel wat al vir die afgelope drie seisoene in Riversdal pronk.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'