HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 17 Februarie hul oorwinningspad voortgesit toe hulle Albertinia met ses paaltjies afgeransel het.
Die tuiswedstryd was hul sewende agtereenvolgende SWDK-ligawedstryd wat hulle gewen het.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf, maar het hul eerste paaltjie verloor met die telling op vier na drie beurte.
Hulle was almal gou terug in die kleedkamer toe die tuisspan hulle vir net 83 lopies na 21.1 beurte uitgeboul het.
Net Ryan Capes met 35 (5x4, 2x6) en Wayne Coackley met 16 (1x4) kon enige weerstand bied teen die venynige boulwerk van veral Jaques Thyse met 5/35 met een leeg na sewe beurte en Danielo du Preez (kaptein), met 3/7 met twee leeg na 6.1 beurte.
Nathaniel Lodewyk met 1/19 na vier beurte en Garth Pieterse met 1/21 na vier beurte het die ander paaltjies laat kantel.
United het die teiken van 84 lopies na net 18.1 beurte vir die verlies van vier paaltjies behaal.
Andrew Pieters met 34 (7x4) en Lodewyk met 21 (3x4, 1x6) het die beste met die kolf gevaar.
Vir Albertinia het Jason Lawrence (kaptein) met 2/25 met twee leeg na agt beurte die beste met die bal gevaar.
Coackley met 1/22 na vier beurte en Capes met 1/19 na drie beurte het ook hard probeer om die tuisspan te keer.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'