Die wedstryde het deel uitgemaak van dié twee klubs, sowel as die Swellendam krieketklub se voorbereidings vir die nuwe seisoen wat op 6 Oktober begin.
In United se eerste wedstryd teen die B span het hulle met 36 lopies gewen.
Die tuisspan het eerste gekolf en 143/8 aangeteken. Die tweede wedstryd het baie opwinding, veral in die laaste paar beurte opgelewer en kon die tuisspan deur middel van 'n bylopie met net een paaltjie staande, die wedstryd beklink.
Pacaltsdorp het eerste gaan kolf en was goed op dreef voordat die tuisspan se boulers hul kolwers begin vasknoop het om hulle tot 152/5 te beperk. Andrew Pieters, United se aanvangskolwer het onderskeidelik 51 (5x4; 1x6) en 60 (6x6; 1x4) lopies teen die B en A spanne aangeteken. Hy is as Man van die Toernooi aangewys.
In die wedstryd tussen Swellendam en Pacaltsdorp het laasgenoemde maklik die teiken van 73 lopies vir die verlies van vier paaltjies binne 10 beurte behaal. United speel sy eerste wedstryd in die SWDKR se promosieliga tuis teen Albertinia, nuwelinge in die liga en wat hoop om die seisoen op 'n hoë noot te begin. Hulle sal egter nie op hul louere kan rus as gevolg van hul oorwinnings die afgelope naweek nie.

Die groep krieketspelers het deel uitgemaak van Heidelberg United krieketklub se voorseisoen program wat 'n T20 toernooi die afgelope naweek ingesluit het. Dié span het Sondag naelskraap in 'n opwindende stryd teen Pacaltsdorp A geseëvier. Foto's: Clive Pretorius.