RIVERSDAL NUUS - Die gesogte Leonard Hurling-wisseltrofee waarmee die tuisspan, Riversdal-krieketklub sedert 2018 in hul vertoonkas gespog het, is uiteindelik deur die besoekers, Heidelberg United-krieketklub opgeraap nadat laasgenoemde die SWDK Six Gun Grill Promosieliga A-wedstryd op Saterdag, 29 Januarie met drie paaltjies gewen het.
Dit is die tweede keer sedert 2015 wat die twee spanne om die beker meeding dat United as wenners met die beker kan spog.
Jaques Thyse, United-kaptein het die loot gewen en nie vir 'n oomblik gehuiwer nie om die tuisspan in te stuur om te kolf. Hulle het gou die Riversdallers in die pekel op 2/3 gehad na 2.1 beurte.
Die tuisspan kon net twee noemenswaardige vennootskappe van 30 om die derde paaltjie en 37 om die sesde paaltjie aan die gang kry.
Bugon Esau was baie ongelukkig om nie sy 50-tal te kon haal nie en was nie uit op 49 lopies vanaf 110 balle (6x4). Slegs Mervin Prins met 19 lopies vanaf 31 balle (4x4) en Cheslin Cloete met 13 vanaf 27 balle (2x4) kon ook dubbelsyfers behaal. Hulle is vir 136 lopies na 42 beurte terug in die kleedkamer.
Jaques Thyse, Heidelberg United-kaptein neem die Leonard Hurling-wisseltrofee in ontvangs van ’n duidelik teleurgestelde Granwin Scholtz, Riversdal-krieketklub-kaptein. Foto's: Clive Pretorius
Vir United was Corbin Swartbooi die goot uitblinker met die bal met sy 3/24 na 8 beurte met 2 leeg. Hy is goed deur Jaylin Opperman met 2/9 na 6 beurte met 2 leeg, Elrick Pretorius met 1/13 na 6 beurte met 1 leeg, Berthal September met 1/19 na 10 beurte met 2 leeg en Enzo Lodewyk met 1/15 na 6 beurte bygestaan.
United moes 137 lopies vanaf hul toegelate 50 beurte behaal en het die totaal van 140/7 na 30.2 beurte aangeteken om die wedstryd met drie paaltjies te beklink.
Vir die besoekers het Thyse met 64 lopies vanaf 52 balle (2x6, 5x4) die beste met die kolf gevaar. Net die Swartbooi-broers, Shirgené met 22 vanaf 22 balle (2x4) en Corbin met 11 vanaf 11 balle (1x4) kon dubbelsyfers behaal.
Vir die tuisspan het Marchello Wessels met 4/42 na 10 beurte en Byron Esau met 3/32 na 7 beurte die United-paaltjies laat kantel.
Heidelberg United-spelers, beamptes en ondersteuners kon duidelik nie hul blydskap verberg nie na hul sege oor hul aartsvyande, Riversdal-krieketklub. Hier pronk Elrick Pretorius en sy kaptein, Jaques Thyse met die beker.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'