HESSEQUA KRIEKETNUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag, 7 November hulle plek in die SWDK Six Gun Grill T20-toernooi se kwarteinde bespreek toe hulle die span van Melkhoutfontein met ses lopies in die G-stroom van die kompetisie geklop het.
Dié tweede ronde van die toernooi is op laasgenoemde se tuisveld beslis.
In die ander wedstryd van die dag het die tuisspan Riversdal-krieketklub met 16 lopies geklop. Albei wedstryde is met lae tellings gekenmerk, wat deur goeie boul- en veldwerk verdedig is.
Melkhoutfontein
In die wedstryd tussen Melkhoutfontein en United het die tuisspan die loot gewen en die besoekers ingestuur om te kolf. United, wat die wedstryd met nege spelers moes aandurf kon net 91 lopies vir die verlies van 8 paaltjies in 16.4 beurte opstapel.
Net drie kolwers kon dubbelsyfers behaal. Corbin Swartbooi met 33 lopies (3x4, 2x6) het die beste met die wilgerlat gevaar, terwyl Berthal September met 21 (1x6, 1x4) en Alcano Vollenhoven met 11 ook moedig weerstand met die kolf gebied het.
Vir Melkhoutfontein het Kelvin Malgas die beste met die bal gevaar en 3/14 na 4 beurte platgetrek. PJ Petersen met 2/26 na 4 beurte, Jason Lawrence met 2/20 na 2 beurte en Bevan Gelant met 1/16 na 3 beurte het die aander paaltjies laat kantel.
Die tuisspan, wat 'n teiken van 92 lopies gestel is, kon egter nie die mas opkom nie en is vir 85/6 in hul toegelate 20 beurte uitgeboul. Net Lawrence met 21 (2x4), Saul Pietersen met 20 (1x4) en Wilhelm Solomons met 11 (1x4) het hard probeer om die teiken te bereik.
Danielo du Preez met 4/14 na 4 beurte het met die bal vir United uitgeblink. Hy is goed deur Swartbooi met 1/10 met 1 leeg na 4 beurte en Enzo Lodewyk met 1/19 na 4 beurte bygestaan. United wen naelskraap met ses lopies en dring dan deur na die kwarteindronde.
Riversdal
Riversdal, wat verlede week deur United platgevee is, kon ook nie die mas teen Melkhoutfontein opkom nie en het hul wedstryd met 16 lopies verloor na hulle die loot gewen en die tuisspan ingestuur het om te kolf. Die tuisspan het 72 lopies aangeteken in hul toegelate 20 beurte.
Vir Melkies kon slegs die veteraan Saul Pietersen met 22 lopies (1x4) en Jason Lawrence met 18 (3x4) enige weerstand met die kolf bied om dubbelsyfers op te stapel.
Vir die besoekers het Marchello Wessels met 4/10 na 4 beurte met die bal uitgeblink. Hy is goed deur Granwin Scholtz met 2/10 na 4 beurte en Jason Van Rensburg met 2/5 na 3 beurte, bygestaan.
Riversdal kon egter nie die venynige boulwerk van die gasheerspan hanteer nie en kon net 56 lopies in 18.5 beurte aanteken. Net Nathan Julies met 10 lopies wat 1 vier ingesluit het, kon dubbelsyfers behaal.
Vir die tuisspan het Lawrence met die bal uitgeblink en 3/10 na 3.5 beurte platgetrek. Die ander paaltjies is deur Reagan Deuchen met 2/7 na 4 beurte, PJ Petersen met 2/9 na 4 beurte, Malgas met 2/9 na 3 beurte en Gelant met 1/15 na 4 beurte, ingeoes.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'