Namibië het die loot gewen en die besluit om die tuisspan eerste te laat kolf het die no-dige vrugte afgewerp.
Die SWD se top kolwers kon nie die boulwerk van die besoekers baasraak nie en is een na die ander vir lae tellings pawiljoen toe gestuur.
Dit was uiteindelik net Brendon Louw met 66, en die twee boulers, Gareth Dukes (20) en Marcello Piedt (25) wat noemenswaardige bydrae gelewer het tot 'n beskeie totaal van 160.
Louis Klazinga (3./21), Jason Davidson (2/36), Christo Viljoen (2/47) en Brandon Viret (2/48) was Namibië se beste boulers.
Namibië het in sy eerste kolfbeurt 221 aangeteken danksy 'n puik honderdtal (114) deur die aanvangskolwer, Xander Pitchers.
Gurshwin Rabie (2/46), Marcello Piedt (2/35) en Gareth Dukes (2/24) het elk twee paaltjies gekry vir die SWD platgetrek.
Die SWD het in sy tweede kolfbeurt effens beter gevaar en die keer 218 aangeteken. Glen Addicott (58), Garth Dukes (54) en Luthanda Mnyanda (24) het goed gekolf.
Namibië wat slegs 158 vir 'n oorwinning moes aanteken is egter vir 125 uitgehaal groten-deels as gevolg van goeie boulwerk deur Marcello Piedt (3/20), Gurshwin abie (3/45) en Douglas Baartman (2/8).
Die SWD het 15,2 bonuspunte in die sak gesteek maar dit was nie genoeg om hom onder die voorste spanne te laat eindig nie.
Die SWD het in Sondag se T20-wedstryd egter weer teleurstellend vertoon en die onderspit met met 10 paaltjies gedelf.
Die tuisspan is vir 'n skrale 113 uitgeboul met Ross Mc Milolan se 25 en Luthanda Mnyanda se 20 die beste individuele tellings. Namibië se aanvangskolwers, Christi Viljoen (62*) en Pikky Ya-France (42*) het sonder veel moeite die wedstryd vir Namibië beklink.
Die SWD speel sy laaste wedstryd van die huidige seisoen van 4-6 April in Kimberley teen Griekwas.
Die SWD-span wat Namibië Sondag in die T20-wedstryd aangedurf het. Foto: Garnett Wicomb