HESSEQUA NUUS - Krieketspanne in die streek het vanjaar weer meegeding om as die beste span gekroon te word.
Die Hessequa T20-kriekettoernooi fokus sterk op die ontwikkeling en groei van potensiële krieketspelers en word deur Hessequa munisipale sportraad in samewerking met die departement gemeenskapsontwikkeling aangebied.
Krieketklubs van Riversdal, Melkhoutfontein en Albertinia het op Sondag 7 April in uitspeelrondes op Melkhoutfontein-sportterrein gespeel om na die eindronde deur te dring.
In die eerste wedstryd verslaan Albertinia vir Melkhoutfontein, maar hulle kon nie in die daaropvolgende wedstryd daarin slaag om Riversdal te klop nie. In die laaste wedstryd reken Riversdal met Melkhoutfontein af en dring dus onoorwonne na die eindronde teen Albertinia deur.
'n Afrigtingskliniek vir 20 seuns van Albertinia en Melkhoutfontein is op Saterdag 13 April deur plaaslike krieketspelers aangebied om te verseker dat ontwikkeling deurlopend plaasvind. Daarna het die eindronde begin met Riversdal wat die loting gewen en besluit het om eerste veldwerk te doen. Albertinia word uitgeboul met slegs 56 lopies op die telbord. Marcello Wessels laat vier paaltjies kantel, terwyl hy net sewe lopies afstaan. Hy is goed ondersteun deur Mervin Prins, wat drie paaltjies neem vir sewe lopies afgestaan.
Riversdal begin hul kolfbeurt goed, met Lendell Evertse en Evan Prins wat die grens gemaklik vind. Justin van Rensburg bring ook sy kant met 24 lopies, nie uit nie, wat Albertinia se telling vinnig laat krimp en verseker dat sy span as oorwinnaars uit die stryd tree. Evan Prins, wat eiehandig 40 lopies aanteken, word as kolwer van die toernooi aangewys. Marcello Wessels, wat agt paaltjies laat kantel het, word as bouler, asook speler van die toernooi aangewys.
Riversdal-krieketklub is die wenspan. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'