RIVERSDAL KRIEKET NUUS - Die Hessequa 6-a-side kriekettoernooi vind vanaf Sondag 2 Februarie tot 1 Maart op Riversdal plaas.
"'n Rekord aantal spanne het vir die 24ste jaarlikse toernooi ingeskryf," sê Cynrol Saayman, wat die toernooi organiseer.
"Toe die toernooi in 1996 ontstaan het, was daar net 23 spanne. Die geld wat daarmee ingesamel is, is gebruik om 'n jong parapleeg se hospitaalkoste te betaal."
Daar is vyf kategorieë waarvoor die spanne kan inskryf, naamlik Mans A-afdeling (10 spanne); Mans B-afdeling (10 spanne); Mans C-afdeling (10 spanne); Dames-afdeling (8 spanne); en Mans veteraan-afdeling (2 spanne).
Die spanne sal in elke afdeling eers in 'n Round Robin (uitdunrondes) in hul verskillende groepe (groep 1 of groep 2) deelneem. Spanne kry punte volgens hul wedstryde: wen - 3 punte; gelykop - 1 punt; en verloor- 0 punte. Die twee spanne met die meeste punte in elke groep vorder na die halfeindronde.
Die toernooi sal op Riverville-stadion plaasvind. Ten einde klubkrieket- en rugbyspelers tegemoet te kom, word geen wedstryde op Saterdae gespeel nie.
Weeksaande begin die wedstryde om 18:00 en op Sondae om 14:00.
'n Klein toegangsfooi word by die hekke betaal en die inkomste sal tussen verdienstelike opvoedingsinstansies verdeel word.
Die toernooi word weer deur die Good to Share Leadership Foundation aangebied en word deur die Ha!Qua-jeugprogram en vrywilligers ondersteun.
"Ons wil graag al ons borge hartlik bedank, en almal nooi om die toernooi te kom ondersteun en te geniet," sê Saayman.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'