RIVERSDAL NUUS - Riversdal-krieketklub het Saterdag, 8 Januarie hul tweede SWDK Six Gun Grill weg ligawedstryd teen Mayflower gewen.
Die Riversdallers het die tuisspan met 38 lopies op hul tuisveld op Groot-Brakrivier getroef.
Die tuisspan het die loot gewen en besluit om die besoekers in te stuur om te kolf. Aanvanklik het dit na 'n goeie besluit voorgekom toe hulle die besoekers in die moeilikheid op 2/19 na 6.1 beurte gehad het. Die tuisspan het egter nie rekening met die veteraan, Mervin Prins gehou wat op nommer 3 kom kolf het nie.
Prins het 'n bestendige beurt gespeel en 50 lopies vanaf 68 balle (7x4) aangeteken wat hulle in staat gestel het om die skaflike totaal van 138, almal uit in 40.2 beurte op te stapel. Hy is goed deur Byron Esau met 24 vanaf 31 balle (3x4), Granwin Scholtz met 15 vanaf 75 balle en Aden Koeries met 10 lopies vanaf 11 balle (2x4) bygestaan.
Vir Mayflower het Earl van Aswegen met 4/26 met 2 leeg na 10 beurte die beste met die bal gevaar. Limahl Buys met 3/25 na 8 beurte en Rhyno Prins met 3/17 na 8.2 beurte het die ander paaltjies laat kantel.
Die tuisspan, wat 'n redelik haalbare teiken van 139 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte gestel was, het goed begin en 46 lopies om die eerste paaltjie vennootskap vanaf 11.4 beurte aangeteken. Hulle het egter in duie gestort en vier paaltjies agtereenvolgens verloor sonder om 'n lopie by te voeg. Hulle is met hul totaal op 100 almal uit na 31.3 beurte.
Vir Riversdal het Cheslin Cloete die beste met die bal gevaar en 4/43 met 1 leeg na 10 beurte ingeoes. Hy is goed deur Marcello Wessels met 3/25 met 1 leeg na 10 beurte, Jason van Rensburg met 1/2 met 1 leeg na 3 beurte en Scholtz met 1/7 na 2.3 beurte ondersteun.
Heidelberg
Intussen het Heidelberg United-krieketklub hul tweede wedstryd agtereenvolgens verloor. Hulle het Saterdag weg teen Pirates United van Knysna met 65 lopies verloor.
Pirates het die loot gewen en besluit om te kolf. Hulle het 144 lopies almal uit na 49.2 beurte aangeteken. Vir Pirates het Marshall Philander met 35 lopies die beste met die kolf gevaar. Hy is goed deur Jody de Koker met 20, Curnol Thorne met 18, Errol Martin met 17 en Renaldo van Rooyen met 10 lopies bygestaan.
Vir United het Berthal September met 3/24 na 10 beurte met die bal uitgeblink. Hy is goed deur Danielo du Preez met 2/14 na 4 beurte, Wesley Bunding met 2/15 na 5 en Jaques Thyse met 2/21 na 8.2 beurte bygestaan.
Wat eintlik vir die besoekers 'n maklike teiken van 145 moes wees, het egter nie so gerealiseer nie en is hulle vir 79 almal uit in 25.3 beurte uitgeboender.
Net September met 19 lopies, Alcano Vollenhoven met 18 en Thyse ook met 18 nie uit, kon die mas opkom om dubbelsyfers aan te teken.
Tyler Bezuidenhout met 4/26 na 8 beurte het met die bal vir die tuisspan uitgeblink. Jade Titus met 3/10 na 4 beurte en Justin Meyer met 2/15 na 5.3 beurte het die ander paaltjies ingeryg.
Riversdal en Heidelberg United speel Saterdag, 15 Januarie tuis teen onderskeidelik Thembalethu en Mayflower. Wedstryde begin om 10:00.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'