RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 20 Januarie na Mosselbaai gereis om die span van KwaNonqaba die stryd aan te sê.
Hulle wen met vyf paaltjies.
Die tuisspan wen die loot, besluit om eerste te kolf en teken slegs 115 lopies aan in 23.1 boulbeurte.
Hulle openingskolwer, Earl Taylor, is die enigste kolwer wat goed vertoon het met 65 lopies van 57 balle, maar hy het min ondersteuning van sy spanmaats gekry.
Taylor het die kolfbeurt van KwaNonqaba goed bymekaar gehou, maar toe hy skoongeboul word deur Jason van Rensburg met die span se telling op 107 vir vyf, was daar geen weerstand meer teen die besoekers se boulaanval nie.
KwaNonqaba verloor hul laaste vyf paaltjies vir net agt lopies.
Van Rensburg is Riversdal se beste bouler en eindig uiteindelik met boulsyfers van drie beurte, vier paaltjies en staan slegs vyf lopies af.
Riversdal behaal die wenteiken van 116 lopies in 23 boulbeurte, met Pieter April wat die beste met die kolf vaar met 73 onoorwonne lopies van 72 balle.
Riversdal het tot dusver 12 van hul 22 ligawedstryde gespeel en wen nege hiervan.
Hul volgende wedstryd is Saterdag 27 Januarie tuis teen Cobras van Kranshoek en Sondag 28 Januarie reis hulle na Wildernis.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'