MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 24 Februarie hul SWDK Promosie B-stroom wegwedstryd teen Wildernis Vipers op 'n drafstap met agt paaltjies gewen.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om die tuisspan eerste te laat kolf.
Met net 10 spelers kon Vipers darem die skaflike totaal van 141 almal uit in 25.3 beurte aanteken, met Wiets Botes met 37 lopies (2x4, 2x6) wat die beste met die wilgerlat gevaar het.
Net Reginald van der Merwe met 34 (6x4, 1x6), Kenneth Syster met 23 (4x4) en Elricardo Sampson met 18 (2x4, 1x6) het ook dubbelsyfers behaal.
Vir Melkhoutfontein het Henrico Saayman met die bal uitgeblink en het hy 4/22 met 2 leeg na 5 beurte platgetrek.
Die ander paaltjies is deur Eldon Manho met 3/39 na 7 beurte, Peter-John Petersen met 1/13 met 1 leeg na 4 beurte en Reagan Deutchen met 1/37 na 5.3 beurte ingeryg.
Die besoekers wat 142 in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, het 144 lopies maklik behaal met net twee paaltjies plat na 22.4 beurte.
Nicolaas Pietersen het met 74 lopies (11x4, 1x6) die beste met die kolf gevaar.
Hy is goed deur Jonathan Michiel met 33 lopies (5x4) en Saul Petersen met 13 lopies (2x4) bygestaan.
Pietersen is ongelukkig uitgehardloop.
Jonathan Buys met 1/11 na 1.4 beurte was die enigste bouler wat sukses met die bal kon behaal.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'