MELKHOUTFONTEIN KRIEKET NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 20 Oktober die besoekende klub van Kwanonqaba gestoomroller om hul SWDK-promosieligawedstryd met 10 paaltjies te wen.
Die besoekers wat net met nege spelers opgedaag het, is vir 'n skamele 34 lopies in 13,2 beurte van hul toegelate 50 beurte uitgeboender.
Geen kolwer kon daarin slaag om dubbelsyfers te behaal nie.
Vir die tuisspan het Henrico Saayman met 2/1 na 1,2 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Reagan Deutchen met 2/9 na twee beurte, Jason Lawrence met 2/15 na vyf beurte en Bevan Gelant met 1/9 met twee leeg na vyf beurte bygestaan.
Die tuisspan moes 35 in hul toegelate 50 beurte aanteken en het dit binne 6,3 beurte met hul totaal op 36/0 reggekry. Saul Pieterse met 15 (3 viere) en Morné Saayman met 17 (3 viere) het die totaal met die behulp van vier ekstra lopies wat die boulers afgestaan het, behaal.
Melkhoutfontein-krieketklub se spelers het rede om so breed te glimlag na hulle Kwanonqaba se neuse behoorlik in die stof gevryf het. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'